Vandag is Donderdag 15 Mei en ons het Sondag Goeieherdersondag gevier. Hierdie week reflekteer ons verder hieroor en vandag dink ons na oor die Herder wat sy skape lei . . .
Psalm 23:2-3 sê: “Hy laat my neerlê in groen weivelde, Hy lei my na waters waar rus is.” Die goeie Herder lei Sy skape met doelgerigtheid en sorg, altyd met ons beste belang op die hart. Sy leiding bring rus en herstel.
Die Herder se leiding is nie willekeurig nie; dit is gerig op ons verkwikking en geregtigheid. In Johannes 10:27 sê Jesus: “My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.” Om Hom te volg, moet ons Sy stem leer ken en vertrou dat Sy pad die beste is. Spreuke 3:5-6 moedig ons aan om nie op ons eie insig te steun nie, maar op die Here te vertrou.
In die alledaagse lewe kan dit moeilik wees om Sy stem te hoor te midde van afleiding. Dit vra stilte, gebed en ’n gewillige hart. Wanneer ons Hom volg, lei Hy ons na plekke van rus en vrede, selfs as die pad soms deur uitdagings gaan. Sy leiding is ’n belofte dat ons nie hoef te dwaal nie – Hy gaan voor en wys die weg.
Gebed: Here, dankie dat U my goeie Herder is wat my lei. Help my om na U stem te luister en U te volg. Gee my die wysheid om U in al my weë te ken en die vertroue om op U te steun. Lei my in U paaie van geregtigheid. Amen.