Dagstuk | Donderdag 16 Januarie 2025

Dagstuk | Woensdag 15 Januarie 2025
Dagstuk | Vrydag 17 Januarie 2025

In hierdie week dink ons na oor die grense van die nuwe jaar – grense wat ons moet oorsteek, uitbrei of trek. Ons nooi jou uit om in hierdie week bewus te word van die grense in jou lewe, soos wat ons hierdie nuwe jaar begin.

Psalm 139:7-10

7Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug?

Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?

8Klim ek op na die hemel, is U daar,

gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.

9Vlieg ek na die ooste,

of gaan woon ek in die verre weste,

10ook daar lei u hand my,

hou u regterhand my vas.

 

Refleksie

Elkeen van ons, as ons eerlik is, het plekke in ons gedagtes waar ons dink die Here meer teenwoordig is as ander. Dalk gebeur dit meer onbewustelik as bewustelik, maar as ons kyk na die wêreld rondom ons, beskou ons sekere plekke as heilig en ander as godverlate. Of dalk is God vir ons meer teenwoordig op Sondag as op ’n Maandag? Dalk is daar dele van jou eie lewe wat jy vir die Here probeer wegsteek. Ons stel grense in ons gedagtes waar ons dink die Here nie kan kom nie.

Psalm 139 maak dit vir ons duidelik dat ons hele lewe afspeel voor die aangesig van God, Coram Deo. Daar is nêrens waar ons kan gaan, waar God nie reeds is nie. Selfs die plekke wat ons dink godverlate behoort te wees, is vol van sy teenwoordigheid. God is selfs teenwoordig in die plekke wat ek vir Hom probeer wegsteek. Die Here is teenwoordig, oor grense heen.

Mag vandag se teks ons herinner dat, wat ook al in 2025 mag gebeur, die Here daar saam met ons teenwoordig is. As ek probeer vlug, is Hy daar. Op my hoogste en my laagste is Hy daar. Waar ook al ek gaan, daar lei sy hand my, hou sy regterhand my vas.

Die film, August Rush, begin met die woorde: “the music is all around us, all we have to do, is listen.” Die Here is teenwoordig, vir die wat ore het om te hoor en oë om te sien. Mag ons in 2025 die teenwoordigheid van die Here raaksien, oral rondom ons.

Gebed

Here, dankie dat ons mag weet dat U hier is, by ons. Daar is nêrens waar ons kan gaan, waar U nie is nie. Dankie, Here vir die versekering dat, waar ook al ons gaan, U hand ons lei en U regterhand ons vashou. In 2025, maak my oë oop om U te sien, waar ook al ek is.

Amen