Dagstuk | Donderdag 16 Mei 2024

Dagstuk | Vrydag 17 Mei 2024
Dagstuk | Woensdag 15 Mei 2024

Vandag is Donderdag 16 Mei en ons reis die week saam oor hoe ons as God se kinders kan lewe met die Heilige Gees binne ons.

Ons het Maandag gehoor dat ons nie meer na die tempel of tabernakel hoef te reis om God se teenwoordigheid te ervaar nie, maar dat ons met die uitstorting van die Heilige Gees nou self met God kan praat en ook na mekaar en na die Bybel kan draai om van God te leer en iets van sy teenwoordigheid te ervaar.  Ons het Dinsdag bietjie saam gereis oor die feit dat elkeen van ons ’n gawe en ’n talent van God ontvang het wat ons met die hulp van die Heilige Gees kan gebruik om saam met ander en saam met God, Sy Koninkryk op aarde te bou. Gister het ons gereflekteer oor die vrugte van die Gees en dat ons daagliks daarna moet strewe om die vrugte aan die wêreld oor te dra – al is dit hoe moeilik. Vandag gaan ons gesels oor die feit dat met die uitstorting van die Heilige Gees het God dit moontlik gemaak dat almal in sy Koninkryk welkom is.

Kom ons lees Efesiërs 3:5-6 saam:

5Nog nooit tevore in die geskiedenis is die geheimenis aan die mensdom bekend gemaak soos God dit nou deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar het nie. 6En dít is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het.

Deur die teks dra Paulus oor dat almal welkom is om deel te vorm van die liggaam van Christus. Dit beteken dus dat ek en jy die verantwoordelikheid het om mense te vertel van die Goeie Nuus van God en dat Hy almal oneindig baie lief het.

Saint Francis van Assisi sê die volgende: Preach the Gospel at all times. Use words if necessary. Ons dade en die manier hoe ons ander mense hanteer moet iets van God se liefde en genade weerspieël.  Die Heilige Gees is in ons geplaas om ons te help hoe om reg te op te tree en dus help die Heilige Gees ons om in Jesus se voetspore te loop en almal met liefde en respek te behandel, want almal is welkom by God se partytjie. Dit is juis deur ons dade wat ons vir mense van Jesus kan vertel wat dalk nie vir Jesus ken nie. Ek het ’n storie gehoor van ’n Christen meisie wat vriendinne was met ’n Moslem meisie en op ’n dag kyk die Moslem meisie na die Christen meisie en vra vir haar, wat maak jou so gelukkig, want daar is iets anders aan jou. Die Christen meisie sê toe, wat haar so gelukkig maak is Jesus en die gesprek het daartoe aanleiding gegee dat die Moslem meisie en haar hele gesin tot bekering gekom het. Die Christen meisie het geen woorde gebruik nie, haar menswees het die Moslem meisie bekeer.  Mense moet Jesus ook deur ons dade kan sien. Soms is ons die enigste vorm van Jesus waarmee mense in aanraking kom.

Gebed:

Here, dankie vir U Here. Here dankie vir die Heilige Gees in ons harte. Dankie dat U ons so lief het dat U vir ons sondes aan die kruis gesterf het. Dankie vir al ons seëninge, vir ons gawes en talente. Here help ons om hierdie gawes en talente te gebruik ter eer van u naam, sodat ons mense van U kan vertel sodat hulle kan leer van u liefde. Here ek bid vir vrede,vir liefde en vir genade in almal van ons lewens.

Amen