Dagstuk | Donderdag 18 Desember 2025

Dagstuk | Woensdag 17 Desember 2025

Handelinge 10:34
“Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, maar uit enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is.”

Die boek Handelinge is bekend vir Paulus se radikale bekering, maar Petrus het ook in Handelinge 10 ’n soortgelyke deurbraak ervaar. Albei se bekering was nie van ’n plek van ongeloof na geloof nie, soos ons dikwels oor bekering dink. Hulle was reeds toegewyde gelowiges wat in God geglo het, maar deur die Heilige Gees na ’n nuwe plek uitgedra is — ’n plek waar hulle kon sê: “Waarlik, ek begryp nou eers.”

Alhoewel Paulus en Petrus se ervarings ingrypend was, het dit vir hulle lank geneem om sin te maak van die oomblikke en dit prakties in oortuigings om te sit. Dit was ook nie die laaste ingrypende oomblik in hulle lewens nie — daar sou nog vele wees wat hulle opnuut sou bring om te bely: “Waarlik, ek begryp nou eers.” Die “nuwe mens” waarvan Paulus in 2 Korintiërs 5 praat, gaan nie net oor een oomblik nie; dit gaan oor God wat voortdurend in ons werk en ons na plekke van versoening lei.

Dan verander die wonder van bekering: dit gaan nie net oor wat God in my lewe doen nie, maar ook oor wat God deur my lewe kan doen. By watter “waarlike” oomblik het die Here jou onlangs uitgebring? Neem tyd om dit goed te onderskei — en oor hoe die Here daardeur jou roep.


Gebed

Here ons God,
U maak ons oë oop.
U bring ons by heilige oomblikke uit
waar ons skielik sien wat ons voorheen nie raakgesien het nie;
waar U waarheid deurbreek soos lig wat ’n donker kamer vul.

Dankie dat U, soos met Petrus, ons lei tot insig —
insig oor U hart, insig oor ander mense,
insig oor onsself.

Dankie dat U wys dat U niemand uitsluit nie,
dat U nie partydig is nie,
maar almal roep in Christus.

Vader, maak ons lewendig vir U Gees,
sodat wanneer die oomblik van insig kom,
ons dit sal herken
en ons lewens in gehoorsaamheid aan U wil sal verander.

Amen.