Die teoloog Dirkie Smit het ‘n advent-gebed geskyf wat ek graag vir ons wil lees. Mag sy woorde ons ook help om dalk iets van waar elkeen van ons, onsself in hierdie Advent tyd bevind, verwoord.
Ons Vader wat in die hemel is,
Laat U Naam geheilig word,
U Koninkryk kom,
U wil geskied-
Soos in die hemel, so ook op die aarde.
Ons wag in hierdie dae, Here,
Soos altyd, soos elke jaar weer, op U koms-
om dit te onthou, om dit te vier, om ons daaroor te verbly,
om daaroor te gesels en te sing,
en opnuut na die verhale daaroor te luister.
Terwyl ons wag in hierdie dae, Here,
maak tog ons oe oop, elke dag,
vir u koms onder ons en tussen ons en by ons, soos altyd-
sodat u wil sal geskied,
onder ons en tussen ons en by ons
en u Naam sal geheilig word,
onder ons en tussen ons en by ons
en u koninkryk sal kom,
onder ons en tussen ons en by ons.
Gee ons vandag ons daaglikse brood.
Vergewe ons ons skulde
soos ons ook ons skuldenaars vergewe.
En lei ons nie in versoeking nie,
maar verlos ons van die bose.
Verlos ons van al ons radeloosheid,
van ons vrese en ons magteloosheid,
van ons versuim en van ons versaak,
van al ons onderlinge stryd en ons vele skeuringe.
Gee ons, gee ons tog-
Soos altyd weer-
al die geestelike gawes
van u Nabyheid en u Koms
En u Ryk.