Handelinge 17:24–28
God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het—Hý is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee. Uit een mens het Hy al die nasies gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon. God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: “Ons stam ook van Hom af.”
Ek wil graag, na aanleiding van hierdie teksgedeelte, ’n gebed van Ferdinand Deist lees:
Skepper van die hemel en aarde, ek wil U ken.
Ek wil meer van U weet, meer van U verstaan, meer van U in my lewe sien.
Waar kan ek U vind?
U voel dikwels so verskriklik ver, so onbereikbaar, so ontoeganklik.
Tog vertel hulle my dat U lank gelede, in hierdie maand, so naby aan ons gekom het in u Seun dat party mense Hom gevolg het en ander Hom doodgemaak het.
Hulle vertel my dat Hy uit die dood opgestaan het en dat U deur Hom naby aan my is.
God, ek roep na U, ek soek na U.
Help my om naby aan U te kom.
Wys my waar ek verkeerd soek, verkeerd bereken.
Ek bid dat U naby aan my sal kom.
Amen