Dagstuk | Donderdag 19 September 2024

Dagstuk | Woensdag 18 September 2024
Dagstuk | Vrydag 20 September 2024

 

Efesiërs 3:20. Aan Hom wat deur Sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.

Ons koester drome en ideale en werk hard om dit te realiseer. Dit alles word gedryf deur ons soeke na betekenis. Waar vind ons betekenis? Ons dink dikwels dat dit iets is wat altyd in die toekoms op ons lê en wag. Wanneer die Here in die Bybel met ons oor betekenis praat, gaan dit nie oor ons eie toekomstige planne, of ervarings, of vermoëns nie, maar oor God wat ons inspireer om dinge op ‘n ander manier te doen. Prediker leer ons dat elke fase en ervaring van die lewe, goed of sleg, deur God met betekenis gelaai is en aangegryp moet word. Die Heilige Gees gee ons hierin die krag om oneindig meer te doen as wat ons bid, of dink. Hoe ontsluit hierdie waarheid vandag jou hede waar jy hoop en droom oor die toekoms, of waar jy vasgevang sit in jou omstandighede en geen uitkoms sien nie?

Gebed

Waai deur my Heilige Gees, sodat my gedagtes heilige mag wees.

Handel in my Heilige Gees, sodat my werk heilig mag wees.

Trek my hart na aan U, o Heilige Gees, sodat ek sal liefhê wat heilig is.

Bewaar my, o Heilige Gees,  sodat ek altyd heilig mag wees. Amen.