https://youtu.be/1–6qHcVoUc
Ek gee julle ‘n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Dit is hoe almal sal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde teenoor mekaar het.
Iemand het eenkeer gesê: “ Liefde is ’n werkwoord.” Daarom moet ons nie net oor liefde praat nie, maar dit ook doen. As ons liefde wil doen, moet ons ook, soos Jesus, ons eie lewe in die proses aflê. Jesus Christus het sy liefde aan ons gewys deur sy lewe vir ons af te lê. Dit is presies die manier hoe ons ook moet liefhê. Ons moet bereid wees om opofferings te maak om ander mense rondom ons op dié manier te bevoordeel.
Augustinus beskryf so ’n liefde: “Die is ’n liefde wat ons leer om ander te help; voete wat na die nood van ander haas; oë wat seerkry raaksien; ore wat die sugte van eensames hoor.”
Dis maklik om ons naaste lief te hê as hulle ons mooi behandel, as hulle vriendelik is, wanneer hulle ons ondersteun en hulle ons nie bedrieg nie. Maar wat as hulle ons verskree, ons beledig, lieg en bedrieg en die lewe vir ons moeilik maak. Hoe het ons hulle dan lief. Hoe wys ons ons liefde dan?
Liefde dring en dryf ’n mens tot diensbaarheid. As ons God bo alles liefhet en ons naaste soos onsself, dan wil ons diensbaar wees. Dit is dan boonop lekker om diensbaar te wees. Diensbaarheid maak jou lewe sinvol. Hierdie liefde wat die Heilige Gees in ons elkeen wek, motiveer en inspireer ’n mens om met die gawes wat die Here aan jou gegee het voluit diensbaar te wees. Mag jy in hierdie nuwe jaar vanuit jou liefde vir God nuut gaan betrokke wees in ander mense se lewens.
Here, U roep my om in liefde ander te dien. U weet dat ek soms daarmee sukkel. Maak my dade nuut in die nuwe jaar sodat ek ‘n verskil kan maak waar U my geplaas het. AMEN