Dagstuk | Donderdag 20 Junie 2024

Dagstuk | Woensdag 19 Junie 2024
Dagstuk | Vrydag 21 Junie 2024

Ons is die week met die tema besig : Om deel van ‘n gemeente te wees beteken om . . . vandag voeg ons by: om te offer

Teks: Handelinge 4:32-37

 GEDAGTE

Daar is ‘n Joodse spreekwoord wat sê: “Baie kerse kan van een vlam aangesteek word sonder dat die vlam ooit minder helder brand.  Ons lees iets hiervan oor die eerste gemeente in Handelinge. Nou is die vraag: “Kan dieselfde van ons as gemeentes gesê word?” Is ons ‘n offervaardige gemeente? Sorg ons vir mekaar. Miskien moet ons eers die vraag  – moet ons vandag nog enigsins iets offer, beantwoord.

Ek dink gelowiges vaar goed met die ontvangs van al die gawes wat God aan ons gee. Ek dink ons vaar goed om te verstaan dat vergifnis iets is wat net deur Jesus se dood aan ons gegee kan word. Ook as dit kom by die ontvangs van die alledaagse materiële dinge. Ook daarin vaar ons goed. Maar ek dink ons sukkel om ons hande en harte oop te maak en te sê: “Heer, ek wil vir U meer gee as die oorskiet. Ek wil my lewe en my alles aan U offer. M.a.w. Ek wil my lewe so leef dat dit reflekteer dat alles aan U behoort. Dis vir ons moeilik. Ek dink ons gee nog baie van die oorskiet vir die Here.

Offers is vandag steeds net so geldig soos in die tyd van die Ou Testament. Ek dink ons moet net die doel daaragter reg verstaan. Ons bring nie meer vandag offers vir die betaling van ons sondeskuld nie. Daarvoor was Jesus Christus die volmaakte offer. Vandag moet ons offer met die gesindheid van dankbaarheid.

Wanneer dit by ondersteuning van die Here se werk kom, is ons bydraes altyd vrywillig. Die Here kyk na die hart wanneer ons offer. Ons lees in 2 Kor 9:7 7 Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.”  Gee omdat God aan jou genadig is en in jou behoeftes voorsien.  Gee omdat jy bly en dankbaar is. Gee met bereidwilligheid. Gee met oorvloedigheid en opregtigheid.

GEBED

Dankie Here, vir alles wat U vir my gee. Maak my hart oop vir ander sodat ek sal gee.  Amen