Dagstuk | Donderdag 21 Maart 2024

Dagstuk | Vrydag 22 Maart 2024
Dagstuk | Woensdag 20 Maart 2024

Vandag is Donderdag 21 Maart en hierdie week reis ons verder in ons gemeentebelydenis van hoe ons leef as getuies en volgelinge van Christus. Ons fokus die week spesifiek op een van ons gemeentewaardes – nader aan God. Soos ons oor die bogenoemde nadink reflekteer ons vandag oor:

Die Weg na God. Die weg na God is deur Jesus Christus. Hy is die enigste weg na die Vader, en deur Hom kan ons die volle toegang tot God verkry.

Johannes 14:6 (2020) – Jesus sê vir hom, “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My leer ken het, sal julle ook my Vader ken. En van nou af ken julle Hom, en het Hom reeds gesien.”

Jesus is nie net ‘n spirituele leier of ‘n groot morele leraar nie; Hy is die pad self. Hy wys nie net die pad nie; Hy is die pad. Deur Hom te volg, vind ons nie net rigting in hierdie lewe nie, maar ook die ewige lewe by God.

As ons in Jesus glo en Hom aanvaar as ons Verlosser, lei Hy ons nader aan God. Hy openbaar die liefde, genade en waarheid van God aan ons. Sy lewe, dood en opstanding is die bewys van God se onwrikbare liefde vir ons. En deur ons geloof in Hom, word ons verbind met die Vader, en ons vind ‘n dieper doel en betekenis in ons lewens.

Mag ons vandag ons harte oopmaak vir die waarheid van Jesus se woorde. Mag ons Hom toelaat om ons te lei op die pad van geloof, hoop en liefde. En mag ons vrede vind in die wete dat deur Jesus, die weg na God helder en toeganklik is vir elkeen van ons.

Gebed: Here, ons kom na U met ‘n nederige hart, soekend na die weg. Ek bid dat U my sal lei en die pad sal verlig wat ek moet volg om nader aan U te kom. Help my om U te soek met my hele hart, siel, krag en verstand. Mag u Gees my lei en my innerlike wese vernuwe. Ek vertrou op u belofte dat as ek na U soek, ek U sal vind.

Amen.