In hierdie week, as deel van die maand van barmhartigheid, reflekteer ons oor om van ons besittings te gee.
10Die mense vra hom toe: “Wat moet ons dan doen?”
11Hy antwoord hulle: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.”
Hierdie woorde in Lukas kom uit die mond van Johannes die doper, wat die pad vir Jesus se bediening voorberei. ’n Klomp mense het na Johannes toe gekom om gedoop te word en dan gevra: “Wat moet ons doen?” Johannes se antwoord nooi hulle om op ’n praktiese, tasbare manier anders te gaan leef en dit wat hulle het, met ander te deel.
Die teks is vandag vir ons ’n uitnodiging om self te gaan kyk na wat ons het. Die meeste van ons het waarskynlik baie meer as twee kledingstukke in ons kas, waarvan ons van hulle amper nooit meer dra nie. Dalk moet ons vir ’n slag ons kaste deurgaan en dit wat ons nie werklik meer nodig het nie, skenk aan ’n organisasie of persone wat ons weet dit kan gebruik.
Stellenberg-gemeente samel veral tydens hierdie maand van barmhartigheid, kos en klere in vir mense in nood. Indien jy in die omgewing woon, is jy welkom om kos en klere na die kerk te bring, sodat die gemeente dit aan mense wat nie het nie, kan versprei.
Mag ons op praktiese, tasbare maniere, ook in die manier wat ons ons besittings deel, anders gaan leef as ’n gemeenskap wat vir Jesus volg.
Here, help ons vandag om ons geloof op ’n praktiese manier uit te leef, veral teenoor mense in nood. Maak ons bewus van wat ons het om te gee en gee ons ’n vrygewige hart om ’n verskil te maak in ’n wêreld in nood.
Amen