Dagstuk | Donderdag 22 Januarie 2026

Dagstuk | Woensdag 21 Januarie 2025
Dagstuk | Vrydag 23 Januarie 2026

Wanneer hoop gebreek word – God wat saamloop

Vandag se teks handel oor die Emmausgangers wat ná Paasfees van Jerusalem af terugreis huis toe. Hulle was deel van die groep wat Jesus gevolg het, en was diep verward oor die betekenis van sy dood en die gerug dat Hy uit die dood opgestaan het. Soos die ander dissipels het hulle sterk verwagtinge gehad oor sy mag en koninkryk.

Lukas 24:21, 25
“Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos.”
“Toe sê Hy vir hulle: ‘Wat ’n gebrek aan begrip en wat ’n traagheid van gees!’”

Hier hoor ons die pyn van gebreekte hoop. “Ons het so gehoop…” — woorde wat ons almal op een of ander tyd ken. Net soos met die Emmausgangers kom daar realiteite oor ons pad wat ons nie verwag of voorsien het nie. Ons het gehoop dinge sou anders uitdraai. Ons het gehoop gebede sou anders beantwoord word. En dikwels raak ons so vasgevang in ons teleurstelling dat ons nie raaksien hoe God juis in die middel daarvan met ons praat nie.

Kan jy dink aan ’n onlangse gebeurtenis wat jou ontstel het?
Iets wat jou hoop gebreek het?
’n Droom wat nie gerealiseer het nie?

Die verhaal van die Emmausgangers leer ons dat die Here self langs ons kom loop, selfs wanneer ons Hom nie herken nie. Hy lei ons geduldig deur ons emosies, ons vrae en ons vaste idees, totdat ons oë begin oopgaan. Hy dwing nie insig af nie — Hy stap saam, luister, verduidelik, en breek uiteindelik brood.

Toe Jesus uit hulle sig verdwyn, het die Emmausgangers gesê:
“Het ons hart nie warm geword toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?”

God se teenwoordigheid bring nie altyd onmiddellike antwoorde nie, maar dit bring ’n nuwe warmte, ’n nuwe perspektief, en uiteindelik ’n nuwe hoop.

Hoe praat hierdie verhaal vandag met jou — juis daar waar jou hoop en geloof deur gebeure gebreek is?


Gebed

Lewende Here,
U wat saam met ons stap, selfs wanneer ons oë U nie herken nie.

Soos die dissipels op pad na Emmaus dra ons soms swaar aan teleurstelling,
verward deur wat gebeur het,
onseker oor wat voorlê.
Ons praat oor hoop wat vervaag het
en drome wat gebreek voel.

Maar Here, U breek deur —
in die gewone pad,
in die gesprek langs die weg,
in die uitleg van u Woord,
en uiteindelik in die breek van die brood.

Open ons oë om U raak te sien,
selfs wanneer U onverwags na ons toe kom.

Laat ons harte brand wanneer U met ons praat,
wanneer waarheid en hoop weer lewe kry.

Bly by ons, Here,
veral wanneer dit aand word
en die lig begin verdof.

Maak van elke ontmoeting ’n heilige ruimte
waar twyfel verander in geloof
en hartseer in nuwe verwagting.

Stuur ons dan terug, soos die Emmausgangers,
met vreugde en dringendheid,
om te getuig:
U leef,
U het verskyn,
en U loop steeds saam met u mense.

Amen.