33O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!
Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!
34“Wie ken die bedoeling van die Here?
Wie gee Hom raad?
35Wie bewys Hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?”
36Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.
Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.
Ons staan stil vandag by vers 36: Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge”.
Ons almal het bronne nodig in ons lewens waarop ons staatmaak. ‘n Bron is ‘n verskaffer van iets wat ons nie op ons eie kan produseer nie. Bv. in jou huis, as jy wil afkoel in die somermaande benodig jy ‘n bron van koue lug. Die elektrisiteit wat vloei in jou huis is een van baie bronne. Daar is ook finansiële- en voedselbronne.
Bronne maak ons lewens makliker, gemakliker, lekkerder en produktief. Al daardie bronne is onderhewig aan tekorte en onderbrekings, wat beteken dit kan enige tyd van ons ontneem word. Dink maar net aan die elektrisiteit tekort en beurtkrag wat ons ervaar. Maar dit is nie so wanneer dit by God kom wat ons bron en verskaffer is van alles nie. Paulus skryf: “Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.” (Rom. 11:36)
Die Bybel se eerste woorde is “In die begin het God hemel en aarde geskep” (Gen. 1:1). Ons lewens as deel van hierdie skeppingsverhaal, begin ook met God as ons Skepper – die Bron van alles. God is jou Bron. Dit klink makliker om te sê, as om te glo. God is jou Bron, die perfekte en op tyd Bron van alles wat jy nodig het. Maar jy moet Hom ontvang as jou enigste Bron deur geloof. God se Woord sal jou verstand vernuwe, jou geloof voed en jou bring by die plek waar jy moet wees om te ontvang wat God vir jou in plek het. Wanneer jy dit toelaat, sal God jou Bron wees van alles wat jy benodig.
Here, U is die Bron van my lewe Amen