Ons vier saam ons feesmarkfees die week en staan stil by verskillende feeste van die Bybel. Ons vervolg vandag deur weer te paar oor die Nagmaal.
Lees Lukas 22:19-20
Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis.
BOODSKAP
Om die Nagmaal vandag te gebruik beteken baie letterlik om in geloof deel te neem aan Jesus se kruisdood. Om dit weer te onthou en daaroor na te dink. Ons herdenk die groot prys wat Jesus vir ons verslossing betaal het. Ons hou deur middel van die brood en wyn Jesus se dood en lyding in gedagtenis.
Maar dit is nie ’n droewige gedagtenis nie. Inteendeel, ons vier die wonderlike genade van God dat Hy ons verlos het. Ons verkondig deur die nagmaal te gebruik ook ons verlossing uit die sonde. Ons is verlos. Ons is vry! Daardie toue van die sonde wat ons vasgebind het en die lewe uit ons uit gedruk het, is af gesny! Ons sê vir mekaar, en ons bely dit voor die wêreld: Jesus se dood het ons lewe geword! Sy dood het ons verlossing beteken. Ons sou die lewe, die egte lewe nie hê nie, as Christus nie vir ons sou gesterf het nie. Daarom mag ons jubel en juig want Jesus het vir ons die ewige verlossing bewerk.
Daarom praat die formulier ook van die Nagmaal as ‘n vreugdefees. ‘n Vreugdefees getuig mos van blydskap, vrolikheid en gelag? Die vreugde waarvan hier gepraat word, is nie die vreugde wat mens met ‘n aardse partytjie assosieer nie. Dit is nie ‘n oppervlakkige vreugde nie. Dit is die diep innerlike vreugde wat groei uit die besef dat Jesus Christus, die prys vir my sonde betaal het en ek ‘n kind van God genoem kan word.
GEBED
Dankie, Here, vir u offer. Dankie dat U ons só liefhet.
Ons voel onwaardig dat U die hoogste prys betaal het vir ons, want ons is sondaars wat niks by U verdien nie. Ons prys U oor u groot liefde en genade vir ons. Amen
(Gebed van Joco Thom)