Dagstuk | Donderdag 26 Februarie 2026

Dagstuk | Woensdag 25 Februarie 2026
Dagstuk | Vrydag 27 Februarie 2026

1 Johannes 1:8-9
As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig – vergewe Hy ons ons sondes en reinig Hy ons van alle ongeregtigheid.

Dit is nie vir ons maklik om tot die insig te kom dat ons onsself bedrieg nie. “Bedrog” is vir ons dikwels iets wat ander mense aan ons doen. Ons kan die vinger na buite wys oor hoe mense teenoor ons optree, maar ons kom nie maklik op ’n plek waar ons gereeld in ons eie harte kyk nie. En tog behoort skuld- en sondebelydenis vir gelowiges soos asemhaling te wees. Dit is juis hier waar die teenwoordigheid en krag van die Heilige Gees in ons lewens inspoel. Hy ondersoek ons, bring ons tot belydenis, lei ons na vergifnis en help ons ook om ander te vergewe wat teenoor ons oortree het. Hy gee ons die moed en krag om God se vergifnis in herstel en genesing om te sit.

Dink vir ’n oomblik hieroor: Dit is nie ons eie gedagtes en wil om probleme op te los wat met ons praat nie, maar die Heilige Gees wat ons omdraai na liefde, vreugde en vrede — om vriendelik, geduldig, goedhartig, getrou, nederig en selfbeheers te wees. En tog word al hierdie dinge deur skuld- en sondebelydenis oopgesluit. Is ek besig om myself te bedrieg?

Gebed
Here, bewaar my van selfbedrog. Bewaar my van trots wat my oë sluit vir my eie gebrokenheid en my die skuld op ander laat pak. Here, ek bely voor U dat ek sondig — in gedagte, woord en daad. Ek bring nie verskonings nie. Ek bring nie wegsteekplekke nie. Ek bring net my hart soos dit is. Dankie dat U nie terugdeins vir my eerlikheid nie; dat u Gees my nie net my foute, oortredings en skuld van die verlede uitwys nie, maar my ook elke keer daaruit lei na vergifnis en vrede. Dankie dat die dankbaarheid oor hierdie verlossing my die krag gee om die wêreld wat ek en ander gebreek het, weer heel en reg te maak.

Amen.