Dagstuk | Donderdag 27 Maart 2025

Dagstuk | Woensdag 26 Maart 2025
Dagstuk | Vrydag 28 Maart 2025

Jesaja 58:6-7

6Is die vas wat Ek wil hê, nie dít nie: om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry,

om die juk wat op mense druk, af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek?

7Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses ‘n blyplek gee nie,

dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie?

Refleksie

Lydenstyd is ’n tyd wat ons fokus op spesifieke geloofsgewoontes, van gebed, vas en gee. Jesaja herinner ons dat die eerste twee slegs waarde het, as dit oorvloei in die derde een in. Geloofsgewoontes help ons om nader aan God te kom, maar dit dring ons ook tot aksie.

Pous Franciscus het dit treffend gestel: “You pray for the hungry. Then you feed them. That’s how prayer works.”

Jesaja herinner ons dat dit gepaard moet gaan met aksies van geregtigheid en liefde. Ware vas vra dat ons iets van onsself gee ter wille van ander en dat ons hande die verandering bring wat God begeer. Miskien is daar ‘n plek waar jy kan help of iemand in jou lewe wat bemoediging nodig het— laat jou vas hierdie vastyd ‘n daad van diens en liefde word. Neem die uitnodiging aan om nie net van kos of iets gerieflik in jou lewe te vas nie, maar om iets te doen wat die lewe van ander kan verbeter. Dink vandag na oor hoe jy prakties die wêreld rondom jou kan dien, en gebruik hierdie tyd om jouself te verbind tot ‘n daad van geregtigheid hierdie week.

Gebed

Here, help ons om ons dade van vas te verbind tot ware geregtigheid en liefde. Mag ons lewens ‘n refleksie wees van U liefdevolle genade aan ander. Amen.