Lukas 17:21. Die koms van die koninkryk van God kan nie uit voortekens bereken word nie. Hulle sal nie kan sê: ‘Kyk, hier is dit!’ of: ‘Daar is dit!’ nie, want die koninkryk van God is binne-in julle.”
In die teksgedeelte wag Jesus se dissipels in afwagting dat God sy koninkryk in die koning se hof en in die plekke van invloed gaan laat geld. Die res van die teksgedeelte fokus op die raak sien van die voortekens en die waag van voorspellings aangaande die tekens. Hulle oë was gerig op God wat hulle van die Romeinse keiser gaan verlos en die Herodes familie wat namens die keiser oor hulle aangestel is om in Palestina te regeer. Elke keer as iets op politieke terrein gebeur het, het gelowiges met raaiskote gewaag oor hoe God se koninkryk besig is om deur te breek en wanneer dit gaan kom. Ons doen vandag presies dieselfde. Vandag is Hemelvaart en miskien waag ons, net soos Jesus se eerste navolgers, met ons eie voorspellings wat ons dink God besig is om te doen. God was nog altyd met iets groot besig. Die groot goed wat Hy om ons doen hang nou saam met die wyse waarop sy Gees ons lei, leer en vorm. Wanneer Jesus in die bergrede met sy dissipels oor God se heerskappy praat is dit sy fokus. Wanneer God die wêreld kom verander begin hy by mense.
Wat vir ons in die toekoms voorlê is onmoontlik om te weet – daaroor kan ons net spekuleer, maar wat God vandag in ons elkeen doen, is iets wat ons kan begryp en verstaan.
Gebed
Wees vanmôre tot vanaand Here, met my. Wees agter en voor my. Wees langs my en rondom my. Troos en versterk my. Wees bo en onder my. Christus wees met my in die ure van stilte en storms. Praat met my deur die mond van ‘n vriend en in die oë van ‘n vreemdeling. Amen.