Dagstuk | Donderdag 30 Januarie 2024

Dagstuk | Woensdag 31 Januarie 2024
Dagstuk | Maandag 29 Januarie 2024

In hierdie vierde week na Epifanie, waar ons oor die betekenis van Jesus se verskyning op aarde reflekteer, nooi ons jou uit om saam met ons te reis deur Lukas 4:18-19.

Lukas 4:18-19

18 “Die Gees van die Here is op My,omdat Hy My gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig.

Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word, en vir blindes dat hulle weer sal sien, om onderdruktes te bevry, 19en om die genadejaar van die Here aan te kondig.”

Refleksie

Ons staan vandag stil by die gedagte “om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig.”

Vandag word ons uitgenooi om te mediteer oor die genade van die evangelie, wat nie beperk is tot spesifieke groepe nie, maar vir almal toeganklik is en spesifiek goeie nuus vir arm mense is.

Hoe klink die goeie nuus vir arm mense? En wat beteken dit om arm te wees? Is dit moontlik om ryk aan een ding te wees en arm aan iets anders?

Wat beteken die woorde “ryk” en “arm” vir jou? Waaraan is jy ryk en waaraan is jy arm?

Hoewel daar verskillende gedagtes oor rykdom en armoede kan wees, moet ons nie die eenvoudige kern van Jesus se boodskap mis nie. Die wêreld waarin Jesus hierdie boodskap verkondig, bestaan grotendeels uit mense wat fisies arm is en sukkel om te oorleef onder die uitbuiting van die Romeinse ryk.

Hoewel daar vandag meer gelykheid is as onder die Romeinse ryk, lewe ons nog in ’n wêreld waar daar baie ongelykheid en armoede is, waar 1% van mense 99% van die rykdom besit. Hoe lyk ons roeping om die goeie nuus aan armes te verkondig vandag?

Reflekteer vandag oor die onbeperkte genade van die evangelie. Mag ons harte geopen word vir die behoeftiges om ons, mag ons vrygewige harte gegee word om die vreugde van Christus se redding met hulle deel.

Gebed

Here, gee ons ‘n oop hart en ‘n bereidwillige gees om die evangelie met arm mense te deel. Spesifiek aan mense wat fisiese armoede beleef, maar ook aan mense wat elke vorm van armoede beleef. Mag ons getrou bly aan die roeping om U liefde en genade uit te dra. Amen.