https://youtu.be/pjzvBgcGsJc
Matteus 7:3. Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie.
Wat is die antwoord op die vraag? Die antwoord is baie ontblotend want ons leef in die illusie dat ons grootste probleme te doen het met die mense saam wie ons leef en nie onsself nie. Die fout en oplossing dink ons lê dikwels elders as onsself. Ons kyk die hele dag in ander vas, maar spandeer elke oggend ‘n paar sekondes om na onsself te kyk. Waarom het Jesus voor ‘n groot skare mense hieroor gepraat? Die rede was dat mense wat in God glo se beoordelings en veroordeling van mekaar konflik, rusie en verwydering gebring het. Dit staan lynreg teenoor God wat mens kom word het om ons met God en mekaar te versoen. Is die splinters wat ons sien en die balk wat ons nie sien nie groter as hierdie realiteit? Dit moet ons self antwoord. Dit bring ons by die ongemaklike plek uit om vandag vandag eers mooi na onsself in die spieël te kyk en diep onder die indruk te kom van ons eie skuld en hoe groot God se genade vir ons is en daaruit ander in die oë te kyk.
Gebed
Hemelse Vader,
U ken ons harte beter as wat ons onsself ken. Baie keer sien ons vinnig ander se foute, maar is blind vir ons eie tekortkominge. Here, leer ons om met nederigheid na onsself te kyk. Wys vir ons die “balk” in ons eie oë – die trots, die oordeel, die selfsug wat ons nie wil raaksien nie. Gee ons ‘n sagmoedige hart, sodat ons nie ander veroordeel nie, maar eerder in liefde en waarheid kan leef.
Vorm ons na U beeld, sodat ons lig kan wees vir ander, sonder om hoogmoedig of veroordelend te wees.
Ons vra dit in Jesus se Naam.
Amen.