Dagstuk | Donderdag 4 April 2024

Dagstuk | Vrydag 5 April 2024
Dagstuk | Woensdag 3 April 2024

Vandag se tema: Ek maak ‘n verskil as ek geestelik groei.

Romeine 12:2. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is.

Is ons besig om aanpassings te maak, of te verander? Daar is ‘n groot verskil tussen die twee. Dink aan al die omstandighede wat oor jou pad kom en van jou vra om aan te pas. Dit is nie gewoonlik iets waaroor ons opgewonde is, of self sou kies nie. Ons voel dikwels daarin gedwing omdat die wêreld waarin jy leef dit van jou vereis. Die woord “aanpas” laat my aan die klere dink wat ons aantrek en wat by verskillende geleenthede ‘n ander doel moet dien. Dit is tydelik en alhoewel ons van buite anders lyk bly ons dieselfde. Soos wat ons daagliks ons klere verwissel kry ons baie gedoen, maar maak ons ‘n verskil? Vandag se teksgedeelte moedig ons aan om ons oop te stel om te midde van invloede van buite deur die Here verander te word en nie net klere te verwissel of “aan te pas nie”. By watter plek van onderskeiding bring vandag se teksgedeelte jou uit? Hoe is die Here vandag diepliggend in jou vel en gedagtes besig?

Gebed

Here, ek bid dat u Gees my vandag so sal kom omvorm en herskep dat ek ‘n instrument wees wat werklik ‘n verskil kan maak. Wys my watter rol ek vandag kan speel om die wêreld as ‘n plek van korrupsie, lyding en verganklikheid te transformeer. Help my om nie net verby die gebeure van die dag te hardloop nie, maar dit versigtig te onderskei sodat ek vandag die potensiaal van nuwe lewe kan ontsluit.