Levitikus 25: 23. Geen grond mag permanent verkoop word nie, want die land behoort aan My. Julle is slegs vreemdelinge en bywoners by My.
Die baie bekende gebed wat deur Koos du Plessis geskryf is sê:
Elke dag is ‘n gedagte.
Elke kamer net gehuur.
Elke aardse droom van rykdom en roem,
net ‘n skadu teen die muur.
Wat ek is, is net genade,
wat ek het is net geleen.
Eintlik smag ek na U waters van rus.
Lei my, Heer vanaand daarheen.
Waar vind ons rus en vervulling in die lewe? ‘n Mens dink onvermydelik aan jou droom van ‘n plekkie iewers wat aan jou behoort en waarheen jy van die besige en veeleisende wêreld kan ontvlug. Ons werk oor ‘n leeftyd hard om plekke in tuistes te omskep en die bestings wat daarmee saam gaan, is met harde werk verdien. Tog . . . is alles nooit vir altyd in ons besit nie. Voor my, was my huis ander se tuiste en na my gaan ander dit weer in hulle eie tuiste omskep. Die goeters wat ons met soveel sorg vergader en vir ons kinders bewaar, wil hulle nie noodwendig hê nie, maar koop dan weer in antieke of tweedehandse winkels meubels en goeters wat aan ander mense behoort het. In Prediker 2:21 sê die skrywer: ‘n Mens wat met wysheid en kennis gewerk en sukses behaal het, laat sy besittings na aan een wat glad nie daarvoor gewerk het nie. Dit is nie reg nie!
Wat gee ons lewens betekenis en vervulling? Dat elke kamer net gehuur is en die feit dat ons drome van rykdom en roem net skadu’s teen die muur is, mag dalk ontnugterend wees, maar daarmee groei ‘n groter bewussyn:
Wat ek is, is net genade,
wat ek het is net geleen.
Eintlik smag ek na U waters van rus.
Lei my, Heer vanaand daarheen.
Gebed
Here, in die stilte van die môre,
wanneer lig oor die aarde breek,
dra ek my klein bestaan na U toe.
Ek weet ek’s maar stof en asem,
’n druppel in die groot see van U skepping.
En tog het U my gekies,
om deel te wees van U handewerk.
Laat my voete loop op paaie van vrede,
my hande werk met sagtheid,
en my oë die skoonheid raaksien
in elke blom, elke dier, elke mens.
Wanneer ek struikel, Here,
lig my op soos U lig die son elke dag op.
Wanneer my siel moeg word,
laat my rus onder die skadu van U bome,
en drink uit die lewende water van U Woord.
Here, ek verlang net om by U te wees –
in die eenvoud, in die skepping, in die lewe.
Maak van my lewe ’n stille lied,
’n gebed sonder woorde,
wat net U kan hoor.
Amen.