Die Parakleet, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alles onderrig en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het.
Die woord Parakleet, is ’n titel of beskrywing wat Johannes vir die Heilige Gees gebruik, wat nie maklik vertaal kan word nie. Dit word dikwels vertaal met ‘voorspraak’ of ‘trooster’. Die beeld wat Johannes se beskrywing by ons losmaak is dat die Heilige Gees soos ’n naby vriend is wat saam met ons stap, om ons by te staan en te bemoedig, te troos en te ondersteun wanneer ons nie self die antwoorde het nie.
Ons dink dikwels dat die vroeë kerk, vol van die Heilige Gees, almal eensgesind was, presies geweet het wat om te doen en al die antwoorde gehad het. Die waarheid is dat die vroeë kerk intern vol onsekerheid en konflik was, terwyl hulle ekstern bedreig gevoel het. Johannes verseker nie dat die Heilige Gees al die moeilikheid en konflik uit ons pad ruim nie, maar verseker ons dat die Heilige Gees ons bystaan en bemoedig in sulke tye.
Hoe kan jy meer bewus wees van die Gees se teenwoordigheid in jou lewe in tye van onsekerheid? Waar het jy bemoediging of troos nodig?
Mag ons vertrou dat die Heilige Gees by ons is, om ons by te staan en te bemoedig.
Here, wanneer ons onseker of hartseer is, voel ons dikwels dat U vêr van ons is. Kom herinner ons opnuut vandag van U teenwoordigheid in hierdie tye van ons lewens en kom troos en bemoedig ons waar ons seer het. Help ons ook om ander te troos en te bemoedig.
Amen.