Dagstuk | Donderdag 5 September 2024

Dagstuk | Woensdag 4 September 2024
Dagstuk | Vrydag 6 September 2024

https://www.youtube.com/watch?v=MEMHmYocyd8

Vandag is Donderdag 5 September en welkom by hierdie week se oordenkings. Dit is lente en ons begin stadig maar seker ’n oorgang maak na die somer soos wat ons oor die drumpel van ‘n nuwe seisoen beweeg. Die derde kwartaal fokus ons op ons gemeentewaarde: Om ’n verskil in die wêreld te maak en Septembermaand help ons om ’n spesifieke fokus te hê op die seisoen van skepping. Vandag reflekteer ons op bewaring en herstel. Ons teksgedeelte is:

Jesaja 11:6-9

Wolwe en skape sal dan saam bly, luiperds sal tussen bokkies lê, kalwers, leeus en voerbeeste sal bymekaar wees en klein seuntjies sal vir almal sorg. Koeie en bere sal saam wei, hulle kleintjies sal bymekaar lê, leeus sal gras eet soos beeste. Babatjies sal by die gate van adders speel, klein kindertjies sal hulle hande uitsteek na giftige slange. Op my heilige berg sal niemand kwaad aanrig of iets verniel nie, want die aarde sal so vol wees van die kennis van die Here soos die see vol water is.

Jesaja beskryf ‘n tyd van herstel en vrede waar die natuur weer in harmonie sal wees. Dit is natuurlik nie net iets vir die toekoms nie, maar ons word ook nou uitgenooi om saam met God die aarde te bewoon, bewaar en te bewerk. Dink vandag na oor ons bydrae tot die bewaring en herstel van die aarde en hoe ons kan help om hierdie visioen van vrede te verwesenlik. Die Here God het die mens in die tuin van Eden geplaas om dit te bewerk en te bewaar. Hierdie wys dat God ons nie net as inwoners van die aarde bedoel het nie, maar as beskermer en bewaarder van sy skepping.

Vandag se wysheid: Wees dankbaar en wys empatie. Erken die waarde van die natuur in jou daaglikse lewe en wees dankbaar vir wat dit jou bied. Probeer om ‘n empatiese houding teenoor die natuur aan te neem deur bewus te wees van jou impak op die omgewing en probeer om volhoubare keuses te maak.

Gebed
Here, ons erken u uitnodiging om u skepping te bewaar en te versorg. Help ons om verantwoordelik op te tree in die manier waarop ons met die aarde en die hulpbronne wat U aan ons toevertrou het. God van herstel en vrede, U het beloof dat daar ‘n tyd sal kom wanneer die aarde herstel en in harmonie sal wees. Help ons om ‘n aktiewe rol in die bewaring van u skepping te speel. Gee ons die wysheid en moed om te doen wat reg is en om die aarde te beskerm vir die toekomstige geslagte. Amen.