Dagstuk | Donderdag 6 November 2025

Dagstuk | Woensdag 5 November 2025
Dagstuk | Vrydag 7 November 2025

Lukas 22:19–20

“Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: ‘Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.’
Met die beker ná die maaltyd het Hy net so gemaak en gesê: ‘Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word.’”


BOODSKAP

Vandag en môre staan ons stil by die nagmaal as ’n fees.

Na drie jaar se bediening saam met Sy dissipels, kuier Jesus vir oulaas saam met Sy naaste vriende. Hy het hulle onderrig, opgelei en alles gegee wat Hy kon vir die belangrike taak wat vir hulle voorlê. Hy kyk na hulle met die wete dat dit die laaste keer is wat hulle so saam sal wees. Daar, in daardie intieme kring, vier Hy die eerste nagmaal saam met Sy vriende. Hy wou hê dat hulle die groot daad wat Hy binne oomblikke sou volbring, altyd sou onthou.

Tydens die ete neem Jesus die brood, bid die seën, breek dit en deel dit aan Sy dissipels uit. Die brood wat Hy breek, is ’n teken van Sy liggaam wat Hy gaan gee om die wêreld te red. Daarna neem Hy die beker, spreek dank daarvoor uit en gee dit vir hulle. Die wyn is die teken van Sy bloed wat aan die kruis vergiet sou word om te betaal vir die sonde van die wêreld.

In die donkerste nag van ’n sondige wêreld stel Jesus die nagmaal in — en daardeur sê Hy as’t ware:

“Dít is waarom Ek na die aarde gekom het — om vir ’n gebroke wêreld, gebroke mense, gebroke gemeentes en gebroke families weer vreugde te bring.”

Die nagmaal is ’n wonderlike hulpmiddel wat God aan ons gegee het om te onthou wat Jesus vir ons gedoen het. Cas Wepener beskryf dit pragtig:

“Onthou elke keer as julle saam eet: Ek is self die Paaslam. Ek is die Lam wie se bloed aan die kosyne van jou lewe gesmeer is, sodat die verdoemenis van die ewige dood jou nie sal besoek nie.”

Dit was God se plan om vir ons nog ’n kans op die ewige lewe te gee. Daarom is die nagmaal ’n feesmaal, ’n vreugdemaal wat met dankbaarheid en blydskap gevier moet word.

Maar wat beteken dit vir ons vandag? Om aan die nagmaal deel te neem beteken om in geloof deel te hê aan Jesus se kruisdood — om dit telkens weer te onthou en daaroor na te dink. Soos ons in Lukas 22:19–20 lees:

“Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.”

Wanneer ons die brood eet en uit die beker drink, herdenk ons die groot prys wat Jesus vir ons verlossing betaal het. Ons hou Sy dood en lyding in gedagtenis.

Maar hierdie gedagtenis is nie droewig nie. Inteendeel — dit is ’n viering van die wonderlike genade van God wat ons verlos het!
Deur die nagmaal verkondig ons ons verlossing uit die sonde. Ons is vry!
Daardie toue van sonde wat ons vasgebind het en die lewe uit ons uitgedruk het, is afgesny!
Ons verklaar dit teenoor mekaar en voor die wêreld:

Jesus se dood het ons lewe geword!


GEBED

Here Jesus Christus,
U het vir ons U liggaam en bloed gegee
as geestelike voedsel om ons te herinner aan U sterwe aan die kruis.
Versterk ons geloof elke keer as ons die nagmaal gebruik.
Help ons om altyd in U teenwoordigheid te leef
en om U voorbeeld van nederigheid en diens te volg.
Amen.