In hierdie week reis ons saam met tekste uit die verhaal van Jona, wat ons nooi om te vernuwe deur bewus te word van die belaglikheid van ons eie harte.
10Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie.
Op grond van die reaksie van die al die mense en diere in Nineve, sien God af van die ramp wat hy oor hulle sou bring. Dit is nie so duidelik in die vertaling nie, maar in die Hebreeus word dieselfde woord ‘raja’ gebruik vir die stad se verkeerde dade, asook die ramp wat die Here sou stuur. Ons sou dit anders kon vertaal met iets soos: “Toe God sien wat hulle doen en hoe hulle hulle bekeer het van hulle boosheid, het Hy afgesien van die boosheid wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring.” In Engels sou ons dit vertaal met die woord ‘evil’. God kies om nie boosheid met boosheid te vergeld nie, maar genadig te wees.
Dit herinner aan die woorde van Paulus in Romeine 12:17 en 21: “Moenie kwaad met kwaad vergeld nie.” en “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad met die goeie.”
Jy laat jouself deur kwaad oorwin, wanneer jy kwaad met kwaad vergeld, boosheid met boosheid. Martin Luther King Jr. het gesê: “Returning violence for violence multiplies violence, adding deeper darkness to a night already devoid of stars… Hate cannot drive out hate: only love can do that.”
Reflekteer vandag oor God se karakter in die verhaal van Jona en wat vir jou duidelik word in vandag se teksvers. Hou dit ook as ’n spieël op, om na jouself te kyk.
Here God, in ’n wêreld wat so gereeld kwaad met kwaad vergeld en waar boosheid tot meer boosheid lei, kom breek U hierdie bose kringloop deur genadig te wees. Kom maak ons vandag bewus van wat in U hart leef.
Amen