Vandag is Donderdag 8 Januarie en ons is tans in die kerklike seisoen wat ons Epifanie noem. Die fokus van Epifanie is die viering van God se verskyning en bekendwording aan ons. Epifanie verkondig dat God hier is. Regdeur die Bybel sien ons hoe mense bewus raak van God se teenwoordigheid en hoe hulle daarop reageer. Epifanietyd daag ons uit om voor God se aangesig te leef en ons identiteit daar te laat vorm.
Vandag reflekteer ons verder oor hierdie tydperk van Epifanie met die tema:
Vra om God se seën oor jou doelwitte
Bybelteks: Psalm 20:4–5
“Mag Hy al u graanoffers onthou en u brandoffers aanneemlik vind. Mag Hy u gee wat u hart begeer en al u voornemens laat geluk.”
Wysheid: Skep balans
Met die wegspring van ’n nuwe jaar het ons gewoonlik ’n hele lys nuwejaarsvoornemens. Hoe lyk jou lys van planne en doelwitte vir 2026? Mag dit wat ons hierdie jaar wil doen vir die Here aanneemlik wees. Mag dit wat ons doen, vrug dra. Mag ons ja sê vir die regte dinge en nee sê wanneer dit nodig is.
Bewaar ’n gesonde balans tussen werk, vrye tyd, familie en persoonlike selfsorg. ’n Gebalanseerde lewe lei dikwels tot beter geestelike, emosionele en fisiese welsyn. Ons bid vir die Here se seën oor die werk van ons hande, met die wete dat ons ten volle afhanklik is van Sy goedheid en guns.
Watter lewende offer wil jy hierdie jaar vir die Here bring?
Gebed:
Here, ek plaas my doelwitte en drome vir hierdie nuwe jaar voor u voete. Mag u seën op ons inisiatiewe wees en my help om te groei — nie net persoonlik nie, maar ook geestelik. Aan U alleen die eer. Amen.