Johannes 20:19: “Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: ‘Vrede vir julle!’”
Dit is baie duidelik dat daar geensins vrede en rustigheid by Jesus se dissipels was daardie betrokke Sondagaand nie. Ná die gebeure van die afgelope week of wat, is hulle verward, bang en onseker. Hulle Leier, die Een op wie hulle hul hoop geplaas het en wat hulle gevolg het—van wie hulle gedink het dat Hy die langverwagte Messias sou wees—is nie meer daar nie. Hy is vervolg, veroordeel, gekruisig en begrawe. En, soos ons in ons spreektaal sou sê, sit hulle nou met die gebakte pere! Hulle is ook nou in die teiken as gevolg van hul assosiasie met Jesus. Hulle is bang en kruip weg agter geslote deure.
En dis juis waar Jesus vir hulle opdaag! Binne, agter hulle geslote deure, waar Hy tussen hulle kom staan. Soos by die huilende Maria, soos ons gister gesien het, daag Hy op toe hulle vreesbevange was. Want dit is waar Jesus wil wees: tussen hulle, met hulle—daar waar hulle hul eksistensiële nood aan die lyf voel.
Vir Maria, in haar seer, het Hy met deernis gevra: “Hoekom huil jy?” Vir sy beangste dissipels sê Hy die woorde wat hulle die graagste wil hoor en op daardie stadium die nodigste het: “Vrede vir julle!” Vir ’n tweede keer herhaal Hy dit, omdat dit so nodig is dat hulle dit goed moet hoor en verstaan. Dis nie maar net ’n niksseggende shalom-groet, soos wat die gebruik was wanneer mense mekaar groet nie—dit is ’n toesegging. Dis ’n troos, ’n bevestiging dat Hy, die Vredemaker, aan hulle vrede kan gee. Dit is waarvoor Hy immers gekom het. Dis waarvoor Hy gesterf het en opgestaan het: om innerlike kalmte, sielsvrede, rustigheid, harmonie en vrede met God te bring.
Ek glo ons kan dit ook weer van toepassing maak op onsself en ons eie omstandighede vandag—in ons vredelose wêreld met sy haat, oorlog en afguns. Maar ook in onsself, wat so blootgestel is aan die onvrede in ons wêreld; in ons eie bang-wees, ons eie pyn en onvrede. Dat die opgestane Jesus ook vir ons opdaag, soos vir sy eerste dissipels—tussen ons kom staan, by my kom staan, my troostend omhels en persoonlik, met baie deernis, vir my sê: “Vrede vir julle! My vrede vir jou!”
Gebed: Dona nobis pacem. Here, gee ons vrede. Jesus, U wat die angs en verskrikking van die dood oorwin het: gee my U vrede. Gee dit nou. Amen.