Dagstuk | Maandag 11 November 2024

Dagstuk | Saterdag 9 November 2024
Dagstuk | Dinsdag 12 November 2024

Teks Kolossense 1:13: “Hy het ons verlos uit die mag van die duisternis en oorgebring onder die koningsheerskappy van sy geliefde Seun”

Carel Antonissen vertel onlangs die storie dat teen die einde van 1944, terwyl Nazi-Duitsland besig was om in duie te stort, herinner die Duitse teoloog, Dietrich Bonnhoeffer, in ‘n gedig aan sy familie vanuit sy tronksel, hulle aan ‘n groot waarheid – een wat vandag in ons onstuimige wêreld steeds as troos vir ons kan dien.

Dit is dat ten spyte van die pyn en wanhoop, veroorsaak deur die magte van oorlog en geweld, siekte en dood, sy familie moes onthou dat hulle lewens steeds op ‘n stil en troue manier omring en gedra word deur goeie magte. Dit is daardie magte van liefde en sorg, vergifnis en hoop, waarheid en integriteit.

Bonhoeffer was natuurlik nie die eerste persoon in die geskiedenis wat hiervan geweet en met die vertroue en selfs die ervaring dat dit waar is, geleef het nie.

Waarskynlik was dit iets van dieselfde vermoede wat die bekende denker en skrywer, Albert Camus op ‘n keer laat skryf het: “In die hartjie van die winter het ek ontdek dat daar in my ‘n onverwoesbare somer woon.”

Binne ons eie Christelike tradisie was daar waarskynlik niemand wat meer hiervan geweet en dit met vrymoedigheid verkondig het, as die apostel Paulus nie. Hy skryf op ‘n stadium die woorde neer:

“Bring hulle maar: dood of lewe of engele of duiwelse magte; ons vrees vir vandag of ons kommer oor môre; ook enige bo-aardse magte in die dieptes of elders in die skepping. Hoegenaamd niks daarbo of onder kan ons skei van die liefde van God in Jesus Christus ons Here nie” (Rom 8:37-39).

Diep bewus van hierdie realiteit van God se troue en onderskragende liefde, sluit Bonhoeffer kort voor sy dood dan ook sy gedig af met die volgende woorde:

Van goeie magte wonderbaar geborge, wag ons getroos wat ookal mag kom.

God is by ons wanneer die dag weer eindig, ook elke oggend en sekerlik elke dag.

Mag hierdie woorde ons vandag ook dra, maak nie saak wat om of in ons lewens gebeur nie!