Van my kant af ook seën vir 2026. Mag dit vir jou ’n mooi jaar wees waarin jy elke oomblik die Here se nabyheid en genade beleef. Ek wil graag hierdie week vir jou die dagstukkies bring na aanleiding van Psalm 27. Ek het een oggend in die nuwe jaar hierdie Psalm gelees en besef hoe kosbaar dit is — ’n Psalm wat vir ons moed en rigting gee vir ’n nuwe, onbekende jaar. Mag jy ook, deur Dawid se woorde wat hier vir ons opgeteken is, met ywer en geloof na die jaar uitsien en dit aanpak.
Psalm 27:1
“Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?”
Die Here is my lig en my hoop
Psalm 27 is een van Dawid se pragtige lofliedere — vol geloof en hoop in God, selfs in die aangesig van gevaar. Dit nooi ons uit om vas te hou aan God as ons lig, ons redding en ons toevlug. In hierdie Psalm vind ons kragtige waarhede oor hoe om te vertrou, te wag en te rus in die Here.
In Psalm 27:1 sien ons Dawid se onbevreesde vertroue. Hy verklaar dat God sy lig is — die Een wat duisternis verdryf en leiding gee. Boonop is God sy redding — die Een wat hom verlos van vyande en omstandighede. Hierdie woorde herinner ons daaraan dat ons in God ons toevlug en sekuriteit het, ongeag wat ons in die gesig staar.
Die Psalm teken ook Dawid se worsteling om in sy vertroue op God te volhard, ten spyte van teëstand en teëspoed. God word met drie eienskappe beskryf wat as beloftes funksioneer: lig, redding en toevlug. God verdryf dus donkerte, skenk oorwinning en bied beskerming in nood. Hierdie eienskappe van God het vir Dawid sekerheid gebring te midde van sy uitdagings. Dit is juis hierdie ervaring van God se teenwoordigheid wat Dawid die moed gee om aan Hom vas te hou op sy lewenspad.
Hoe lyk jou geloof? Kan jy saam met die psalmdigter uitroep:
“Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?”
Dink na oor hoe God deur sy lig jou lewe verhelder, hoe sy redding jou vrees verdryf, en hoe sy teenwoordigheid jou veilig laat voel — selfs teenoor jou vyande.
Stap 2026 binne met Dawid se belydenis:
Die Here is my lig, my redder en my toevlug.
Die pad mag dalk onbekend wees, maar jy stap dit nie alleen nie.
Here, U is my lig, my verlossing en my toevlug. Help my om op U te vertrou, selfs te midde van vrees. Vul my met die begeerte om u teenwoordigheid te soek en te wag op u tyd en wil. Dankie dat ek in U volkome sekuriteit het.
Amen.