In die middel van Januarie van 2025 berei ons voor vir die jaar wat kom. In 2025 stap ons by Stellenberg-gemeente opnuut ’n pad met ons visie: oor grense heen. In hierdie week dink ons na oor die grense van die nuwe jaar – grense wat ons moet oorsteek, uitbrei of trek. Ons nooi jou uit om in hierdie week bewus te word van die grense in jou lewe, soos wat ons hierdie nuwe jaar begin.
12Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. 13Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.
Die begin van die nuwe jaar is ’n duidelike grens. 2024 is verby en 2025 lê voor. Die verlede is ’n grens wat niemand kan oorsteek nie en die toekoms is ’n onsekere grens met verskillende moontlikhede, ’n horison waaroor ons nie kan sien nie. Ons leef tussen die grense van die verlede en die toekoms. Wat dit vir Paulus moontlik maak om te leef tussen hierdie twee grense, is die wete dat Jesus Christus hom Syne gemaak het. Hy behoort aan Christus en daarom kan hy streef om die Koninkryk vir homself toe te eien. Daarom kan hy homself losmaak van sy verlede en hom uitstrek na wat voor is.
As ons praat oor die verlede, sê mense dikwels twee amper kontrasterende waarhede: 1 – Jy kan nie weghardloop van jou verlede nie; 2 – Jy moet laat gaan van die dinge in jou verlede wat jy saam met jou dra. Sonder om weg te hardloop van jou verlede af, wat is die dinge agter jou waarvan jy jou wil losmaak? Wat het jy nodig om te laat gaan?
Dalk beteken dit selfs net om die dinge te noem wat in 2024 gebeur het. Drome wat nie gerealiseer het nie, of dinge wat onafgehandel is. Foute wat gemaak is, hartseer wat oor jou pad gekom het of dinge buite jou beheer wat jou jaar in ’n onverwagse rigting gestuur het. Dit beteken selfs dalk om jouself los te maak van die drome wat waar geword het, die oorwinnings wat behaal is en die mooi dinge wat jy beleef het. Nie om dit te vergeet nie, maar om jou nie te laat leef in die suksesse van die verlede nie, sodat die Here jou in 2025 na nuwe plekke kan neem.
Waarvan moet jy jouself losmaak?
En waarheen strek jy jouself uit? Wat lê vir jou voor? Waarna streef jy in 2025? Hoe kan ek, soos Paulus, in 2025 streef om meer en meer van die Koninkryk myne te maak – dit vir myself toe te eien en deel te maak van wie ek is?
Here, aan die begin van die nuwe jaar het ons opnuut die geleentheid om onsself los te maak en om uit te sien. Help ons om te raak te sien wat die dinge is wat ons moet laat gaan. Help ons ook om te onderskei waarheen ons onsself moet uitstrek. Wees met ons besig in 2025, sodat, in hierdie jaar, die Koninkryk van God al hoe meer deel van ons lewens word.
Amen