Dagstuk | Maandag 15 September 2025

Dagstuk | Saterdag 13 September 2025
Dagstuk | Dinsdag 16 September 2025

Teksvers: Lukas 17:11-19

Op sy reis na Jerusalem toe het Jesus al met die grens tussen Samaria en Galilea langs gegaan. 12Net toe Hy ‘n sekere dorpie wou binnegaan, kom tien melaatse mans Hom tegemoet, maar hulle bly op ‘n afstand staan 13en roep hard: “Jesus, Here, ontferm U oor ons!”

14Toe Hy hulle sien, sê Hy: “Gaan wys julle vir die priesters.”

Op pad daarheen het hulle gesond geword. 15En een van hulle het, toe hy sien dat hy genees is, omgedraai en God hardop geprys. 16Hy het voor die voete van Jesus neergeval en Hom gedank. Hierdie man was ‘n Samaritaan. 17Toe sê Jesus: “Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege dan? 18Is daar niemand anders wat omgedraai het om God die eer te gee behalwe hierdie man wat nie eers ‘n Jood is nie?”

19En vir hom sê Hy: “Staan op en gaan huis toe. Jou geloof het jou gered.”

Die melaatse mans in hierdie storie het geweet hoe dit is om in die skaduwee van ander te lewe. In ‘n niemandsland, ‘n tussen-in-spasie. Want soos dit die gebruik was, moes hulle hulle afstand hou van mense, hulle moes leef in isolasie en oral waar hulle sou gaan, is hulle as onrein aangelondig, sodat almal sou weet, wie en wat hulle is. So as Jesus hulle genees, genees Hy nie net hulle liggame nie, Hy herstel hulle identiteit, en neem hulle terug na wat dit beteken om ’n mens te wees. Om deel te wees van ‘n familie, van ‘n gemeenskap, nabyheid en intimiteit.

Die genesing van hulle ligame stel hulle in staat om weer te voel, om te omarm en omarm te word. Jesus tree toe tot hierdie niemandsland, ‘n land van geen tuiste en nooi hulle terug huis toe. As ons vanuit hierdie hoek na die storie kyk is die 10de man se reaksie meer as net dankbaarheid vir genesing. Dis ook ‘n dieper uitdrukking van behoort. Lukas vertel dat die 10de melaatse man, ‘n Samaritaan was. Iemand wat nie net gemarginaliseerd was omdat hy siek was nie, maar ook omdat hy deel was van ‘n groep mense wat verafsku en uitgestoot is deur die Jode. Sy andersgeid help hom om dit te sien wat die ander nie kon nie. Hy kon sien dat sy identiteit, sy ware plek van tuiste, Jesus se voete lê. Hy kon sien dat Jesus se arms wyd genoeg is om alles van hom te omarm, melaatse, vreemdeling, verstoteling, ook geliefde kind van God.

Mag jy ook tuis kom in die wye arms van Jesus.