’n Paar weke gelede by Stellenberg-gemeente was Psalm 121 die fokusteks van die erediens. Psalm 121 is ’n pelgrimslied, wat ons nooi om saam op reis te gaan. Hierdie week herbesoek ons temas wat voortvloei vanuit Psalm 121. Ons begin hierdie week by die bekende Psalm 23, wat soos Psalm 121, getuig van God se voorsienigheid en beskerming.
1’n Psalm. Van Dawid.
Die Here is my herder;
ek ly nie gebrek nie.
2 In groen weivelde
laat Hy my rus;
na water waar daar rusplek is,
lei Hy my.
3Hy gee my nuwe lewenskrag;
Hy lei my op die regte paaie
ter wille van sy Naam.
4Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan,
is ek nie bang vir gevaar nie,
want U is by my.
Dit is u staf en u stok
wat my gerusstel.
5U dek vir my ‘n tafel voor die oë
van my teenstanders.
U verfris my kop met olie;
my beker loop oor.
6Net goedheid en troue liefde sal my volg
al die dae van my lewe,
en ek sal terugkeer
na die huis van die Here,
tot in lengte van dae.
Psalm 23 is ’n Psalm wat saam met mense reis – in verskillende tye en plekke van hul lewens. Afhangend van waar jy op jou reis is, het die Psalm vir jou ’n ander betekenis. In tye van voorspoed, dra Psalm 23 ’n ander betekenis as in tye van nood of hartseer. Soos ons hierdie reis begin, laat ons nadink oor die vertroostende woorde van Psalm 23. Psalm 121 nooi ons om onder in die vallei te staan en op te kyk na die berge. Psalm 23 herinner dat selfs in ons donkerste klowe, wanneer ons verlore of verlate voel, God steeds ons getroue herder bly. Spandeer vandag tyd om oor elke vers van hierdie Psalm te mediteer. Hoe het God jou na groen weivelde, of waters van rus gelei, of hoe was Hy by jou deur donker valleie? Mag jy onthou, dat selfs wanneer die lewe chaoties voel, God jou jou met sy staf en stok lei.
Oefen vandag om in elke oomblik bewus te wees van God se teenwoordigheid. In vertroue dat Hy jou lei en beskerm en dat sy goedheid en troue liefde jou sal volg al die dae van jou lewe, tot in lengte van dae.
Hemelse Vader, dankie dat U ons Herder is wat ons nooit verlaat nie. Help ons om U teenwoordigheid te soek en op U leiding te vertrou, veral wanneer ons onseker voel. Lei ons met U staf en stok deur elke uitdaging wat oor ons pad kom. Amen.
Amen