Dagstuk | Maandag 17 Junie 2024

Dagstuk | Saterdag 15 Junie 2024
Dagstuk | Dinsdag 18 Junie 2024

https://youtu.be/jOgYeHFQPQI

 

Mark Dyer is ‘n leermeester by die Virginia Theological Seminary. Hy het eenkeer gesê dat ‘n gemeente gereeld ‘n rommerlverkoping moet hou. Daardeur het hy bedoel dat ons as gemeentes onsself gereeld moet ondersoek vir onnodige dinge waaraan ons vasklou en terseldertyd ook kyk van watter skatte het ons al vergeet en dit weer opgrawe. Ons wil dit dikwels nie doen nie, want dit haal ons uit ons gemaksones. Ek wil jou uitnooi om die week as gemeente in die spieël te kyk en te dink oor ons kerkwees. Wat is daar wat ons dalk moet laat gaan en wat is daar wat ons dalk meer van moet doen. Ons gaan die week stilstaan by die tema: Om deel van ‘n gemeente te wees beteken….. Ons eerste tema is: om te luister en te leer.

 Teks: Lees Hand 10:1-34

 GEDAGTE

In die oë van die Jode was Kornelius ‘n heiden. Maar dit is juis hierdie heiden, hierdie man wat nie net van ‘n ander kultuur en ‘n ander etnisiteit is nie, maar boonop ook nog van ‘n ander godsdiensoortuiging is, wat deur die evangelie bereik word. Die Engel van die Here verskyn aan Kornelius en sê vir hom dat hy ‘n man met die naam Petrus in Joppe moet gaan haal. Dadelik stuur hy ‘n groep afgevaardigdes om na Joppe te gaan.

Intussen het die Here vir Petrus ook voorberei. Petrus was ‘n Christen, maar het nog steeds elke Joodse wet en gebruik tot op die letter nagekom. Petrus kry ‘n opdrag waarin die Here die onmoontlike van hom vra. In ’n droom sien hy iets soos ’n groot laken wat aan sy vier punte afkom. In die laken is al die diere bymekaar wat die Joodse wette al vir duisende jare oor sê: “Jy mag nie jou mond daaraan sit nie!” En nou sê ‘n stem vir hom: “Slag en eet!”

Maar net toe kom die boodskappers van Kornelius daar aan en sê: “Kaptein Cornelius, ’n opregte en godvresende man vir wie die hele Joodse volk hoë agting het, het ’n openbaring deur ’n heilige engel gekry dat hy u na sy huis toe moet laat haal om te hoor wat u te sê het.” Op hierdie stadium was Petrus goed deurmekaar maar, het geweet dat hy moet gaan. Daarom het Petrus gehoorsaam gegaan al het hy nie geweet waarop dit als gaan uitloop nie.

Kornelius verduidelik hoe hy die opdrag van ‘n engel van die Here gekry het om Petrus te laat haal en dat hulle op ‘n boodskap van Petrus wag. Dit was toe dat Petrus se hele wêreld skuif en hy ‘n enorme ‘Aha!’ oomblik ervaar het! En sy ‘Aha’ was dat die evangelie ook vir nie-Jode bedoel is.

Dis ook die uitdaging waarvoor die kerk gedurig gestel word. Teenoor die neiging om te konsolideer, af te sonder, te beskerm, uit te sluit, in ons gemaksones vas te val, net oor ons eie bestaan en doen en late besorg te wees – te leer om aan die Here en Sy Gees gehoorsaam te wees. Om ook soms ‘n rommelverkoping te hou van ons eie ou idees wat vir God nie regtig van belang is nie. Om te kyk waarmee God in ons gemeenskap besig is en te hoor hoe Hy wil he dat ons daarby betrokke moet wees.

GEBED

Here maak ons oë oop om te sien waar U ons as gemeente wil gebruik. Amen