Dagstuk | Maandag 18 Maart 2024

Dagstuk | Dinsdag 19 Maart 2024
Dagstuk | Saterdag 16 Maart 2024

Vandag is Maandag 18 Maart en hierdie week reis ons verder in ons gemeentebelydenis van hoe ons leef as getuies en volgelinge van Christus. Ons fokus die week spesifiek op een van ons gemeentewaardes – nader aan God.

As ons dan so nadink oor ons oorhoofse tema van om nader aan God te leef begin ons eerstens vanoggend ons refleksie oor:

Die uitnodiging van God. God nooi ons uit om nader aan Hom te kom, ongeag wie ons is, of wat ons gedoen het. Hy wag vir ons om sy liefde te ervaar en ons lewens aan Hom oor te gee. Die goeie nuus is dat Hy reeds na ons gekom het deur sy Seun Jesus en so werk die Gees van God ook tussen ons.

Matteus 28:20 sê: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld”.

Wat ’n wonderlike wete dat God nie vêr van ons is nie, maar saam met ons elkeen reis. Somtyds is daar ’n twyfel wat mense ervaar in hul geloofsreis. Verken jou eie twyfel oor geloof en identifiseer wat dit is wat jou twyfel voed. Bid dat God jou sal help om deur hierdie twyfel heen te werk en ’n dieper verstaan van jou geloof te bereik.

Kom ons moedig mekaar aan om volledig op God te vertrou in elke aspek van ons lewens, met die versekerende wete dat Hy getrou is en omgee vir ons. As ons die week ook dieper kyk na ons nuwe gemeente-embleem dan ontvang ons die uitnodiging om te nader na God, as die bron van lewende water, in wie daar ware rus en vrede is.

Gebed: Here, dankie dat U vir ons ‘n weg na Uself gewys het deur u Seun, Jesus Christus. Help ons om elke dag nader aan U te kom deur geloof in Hom. Gee ons die vermoë om die waarheid van u Woord te verstaan en te leef volgens U wil. Amen.