Dagstuk | Maandag 19 Januarie 2026

Dagstuk | Saterdag 17 Januarie 2026
Dagstuk | Dinsdag 20 Januarie 2026

Epifanie – God wat verskyn in die gewone

Na afloop van Kersfees, waar ons die geboorte van Jesus herdenk, bevind ons ons aan die begin van die jaar in die tyd wat ons Epifanie noem – wat “verskyning” beteken. In hierdie week se dagstukkies gaan ons na verskeie tekste kyk waar die Here aan mense verskyn het, en nadink oor hoe die Here ons vandag nog in die hede ontmoet.

Eksodus 3:2–3
“Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in ’n vlam binne-in ’n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie. En Moses sê vir homself: ‘Ek wil tog ’n bietjie nader gaan om hierdie wonderlike verskynsel te bekyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie?’”

Moses het, in opdrag van die Here en in die lig van die belofte van ’n beloofde land, die Israeliete die onbekende wildernis binnegelei. Min het hulle geweet dat dit vir die volgende veertig jaar hulle tuiste sou wees. Sonder ’n vooraf beplande roete het hy die onbekende ingetrek, in die geloof dat die Here by hulle is en dat Hy iewers langs die pad die nodige leiding sou gee.

Die brandende bos was so ’n ontmoetingsplek. En vir die volgende veertig jaar op hierdie reis sou die Here telkens op soortgelyke maniere vir Moses en die volk ontmoet en met hulle saamreis. Toe Moses vra hoe hy God aan die volk moet bekendstel, kry hy die antwoord: “Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.”

Dit is ’n verwysing na ’n God wat nie vasgevang is in tyd en plek nie, maar wat in die alledaagse met mense saamreis.

Ons staan nou self aan die begin van ’n nuwe jaar. Wat vir ons voorlê, weet ons nie. Vandag se teks herinner ons daaraan dat gewone plekke en gewone tye in heilige oomblikke kan verander. God het ons oor tyd tot hier gebring. Mag jy bewus raak van sy heilige teenwoordigheid – van die God wat ons in die alledaagse en die onverwagse kom ontmoet.


Gebed

Here, God van Moses,
U wat verskyn het in ’n bos langs ’n gewone pad –
’n plek sonder naam,
’n oomblik sonder aankondiging –
en tog was dit heilige grond.

Leer ons om U raak te sien op die paaie wat ons elke dag stap:
in die roetine, in die wag,
in die landskap van ons gewone lewens.
Want dikwels is dit juis daar waar U ons roep.

Maak ons oë oop om te besef dat U nie net in tempels praat nie,
maar langs die pad,
by die werk,
in die stilte van onsekerheid
en in die vuur wat brand maar nie verteer nie.

Soos U vir Moses geroep het, roep U ook vir ons –
nie om uit die wêreld te ontsnap nie,
maar om terug te gaan daarin
met nuwe oë,
met ’n heilige opdrag,
met moed.

Laat ons leer om stil te staan,
om ons skoene uit te trek,
om met eerbied te luister
wanneer U die gewone heilig maak
en die bekende nuut.

Amen.