Dagstuk | Maandag 2 Desember 2024

Dagstuk | Saterdag 30 November 2024
Dagstuk | Dinsdag 3 Desember 2024

Ons bevind onsself in die tyd van die kerkjaar wat ons Advent noem. Advent beteken ‘koms’ en is die tyd van die jaar waarin ons met verwagting die dae na die aanbreek van Kersfees aftel. Dit is ‘n besondere tyd omdat dit ons by ‘n plek bring om oor die jaar terug te dink en te ervaar hoe die Here ons in die onbekende van die toekoms inlei.

Jesaja 9:5.

Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee, Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.

Vandag se teks praat met ons oor verwagting. Die Jode het hierdie teks gelees en verwag dat die profetiese teks die koms van die Messias aankondig wat nou saamgeloop het met die verwagting van die aanstelling van ‘n nuwe koning. Christene lees die teks as ‘n verwying na die voorspelling van Jesus se geboorte wat die hoop van ‘n nuwe era vir die mensdom bring. In beide gevalle het gelowiges met die sterk verwagting geleef dat God op die punt staan om iets nuut te doen wat die lewe vir hulle gaan verander. Dan is daar natuurlik ook die verwagting van Jesus se wederkoms (die belofte dat Hy gaan terugkom om alles nuut te maak). Ons het die afgelope Sondagoggend en -aand die begin van Advent gevier. Wat is die verwagting wat hierdie tyd se feesvieringe in jou los maak? Raak bewus van hoe God as Raadsman, Magtige God, Ewige Vader en Vredevors jou verlede, hede en toekoms kom oopsluit.

Gebed

Here, ek bring vandag aan die einde van ‘n jaar na U toe. Daar is so baie dinge wat heeltemal anders verloop het as wat ek aan die begin van die jaar gehoop en geglo het. En hier is ek vandag Here. Deur alles wat hierdie jaar gebeur het, het U my behoue laat bly. Ek is deur verlies geraak, maar daarin deur U genade omvorm. Daar het onverwagse gebeure en mense oor my pad gekom waarvoor ek nie gevra het nie en waardeur ek skielik vandag geseën voel. Deur dit alles was U by my en dit bring my vandag op die plek uit om ook nou my verwagting vir wat nog moet kom in U hande oor te gee. Amen.