Dagstuk | Maandag 2 Junie 2025

Dagstuk | Saterdag 31 Mei 2025
Dagstuk | Dinsdag 3 Junie 2025

Ons is tans besig met ons Pinkster reeks by Stellenberg-gemeente, met die oploop na Pinksterfees hierdie komende Sondag. Hierdie week staan ons stil by verskillende tekste oor die Gees van God in die Bybel. Pinkster gaan oor die besonderse oomblik toe die Heilige Gees uitgestort is op alle gelowiges, maar dit beteken nie dit is die oorsprong van die Gees nie. Die Gees van God is al van die eerste bladsy van die Bybel besig om te werk.

Ons lees vandag uit Genesis 1:2

Genesis 1:2

Die aarde was woes en leeg, en donkerte was oor die •oerwater. Maar die Gees van God het oor die water gesweef,

Refleksie

Van die eerste oomblik van die skepping was die Gees van God reeds aan die werk. Toe die aarde nog “woes en leeg” was, het die Gees oor die oerwater gesweef, gereed om orde uit chaos te bring en lewe uit die duisternis te roep. Daar is ’n kontras tussen die woes en leë aarde en die gevoel van chaos wat dit skep en hoe die Gees van God oor die waters sweef en ’n kalmte te midde van die chaos vertoon. Die res van Genesis een beskryf hoe God orde bring in hierdie chaos. Wat aan die begin waar was, is nou nog waar. Die Gees van God is steeds vandag aktief besig om nuwe lewe te skep en orde te bring in die chaos van ons lewens.

Dalk voel jy soms of die aarde vir jou ’n “woeste en leë” plek is—oorweldig deur omstandighede, onseker oor die toekoms, of uitgeput deur die eise van die lewe. Maar net soos die Gees oor die oerwater gesweef het, mag die Gees ook ’n kalm teenwoordigheid bring in die chaos van jou lewe.

Spandeer vandag ’n oomblik in gebed met die Here en deel met Hom waar jy tans chaos beleef en ook waar jy sy kalmte en nuwe lewe beleef.

Gebed

Here God, Vader, Seun en Heilige Gees, U is al van die begin af besig om orde te bring in die skepping. Mag U ook ons herinner aan die kalm teenwoordigheid van die Gees in die chaos van ons lewens.