Dagstuk | Maandag 2 Maart 2026

Dagstuk | Saterdag 28 Februarie 2026
Dagstuk | Dinsdag 3 Maart 2026

Spreuke 3:6

6Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.

In die vroeë 1900s het Charles Sheldon ’n boek geskryf  met die naam In His steps wat ’n eenvoudige vraag gevra het: “What would Jesus do?” Om in Jesus se voetstappe te leef beteken om vir onsself voortdurend hierdie eenvoudige vraag te vra: wat sou Jesus doen?

Ken die Here in alles wat jy doen. Vra jouself voortdurend, is hierdie wat ek nou wil doen, wat Jesus sou doen? Dit vra vir ’n lewe van gebed, ’n lewende verhouding met God waar ons besef dat elke keuse wat ons maak belangrik is en betekenis het. Dit is ’n erkenning van ons afhanklikheid van God, ’n erkenning dat ons eie insigte beperk is. Vandag soek ons raad by die internet en kunsmatige intelligensie vir enige besluite wat ons moet maak en bring min tyd in gebed saam met die Here deur oor alles in ons lewens. Hoe sal jou keuses lyk as jy hierdie vraag, ‘wat sou Jesus doen?’, ’n daaglikse ritme maak?

Die woord alles in hierdie versie is uitdagend. Ons bid maklik voor die groot keuses in ons lewe, om die Here se leiding en raad te vra. Die woord alles vra egter vir ons om op te let na die klein dingetjies in ons lewe, die dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar.

Die laaste gedagte wat hierdie versie losmaak, is die gedagte dat die Here ons op die regte pad sal laat loop. Ons kan so maklik die woord regte in ons gedagtes vervang met ander woorde. Woorde soos suksesvolle, voorspoedige, maklike. Die regte pad sluit nie noodwendig hierdie dinge in nie. Inteendeel, die regte pad, sê Jesus Christus, is om ons kruis op te tel en Hom te volg. Hoe dink jy lyk die prentjie van die regte pad volgens die wysheid van die wêreld? Hoe dink jy lyk die regte pad volgens die Here?

Gebed

Here, mag U, deur ons, U wil laat geskied. Mag ons voortdurend onsself vra wat U sou doen, Here Jesus. Help ons om in U voetstappe te volg in die groot en die klein keuses in ons lewe. Lei ons op die regte pad tot eer van u Naam.

Amen.