Kan jy glo dis feesmark tyd. Vandag begin ons jaarlikse feesmark. Dit bring ‘n mens ook alhoemeer nader aan die feestyd wat ons binnekort ingaan. Die volgende paar dae wil ek saam met jou stilstaan by verskillende feeste waarvan ons in die Bybel lees ons gaan kyk na:
Mag jy die volgende paar dae ‘n feestyd beleef.
SKRIFLESING
Lees Exodus 12:14
En hierdie dag moet vir julle ‘n gedenkdag wees, en julle moet dit as ‘n fees tot eer van die Here vier. Julle moet dit in julle geslagte as ‘n ewige insetting vier.
BOODSKAP
Feeste is een van die kenmerke van religieuse mense. Ons kan sê feeste vorm ʼn integrale deel van alle godsdienste se spirituele identiteit. Selfs vandag nog het feeste vir ons ‘n baie spesiale betekenis. Ons dink daaraan hoe Kersfees en Paasfees families en gesinne weer bymekaar bring. Ons vier dié feeste om bepaalde aspekte wat vir ons betekenisvol is, te onthou. As jy vir kinders vra: Waarom vier ons Kersfees? Om te kan onthou dat Jesus in Bethlehem gebore is. Waarom vier ons Paasfees? Om te kan onthou dat Jesus vir ons aan die kruis gesterf het. Nou net so was die Paasfees/Pasga wat God vir Sy volk ingestel het ook ‘n fees om te onthou.
Feeste was ook deel van die Joodse volk. Sommige feeste is gereël om saam te val met die wisseling van die seisoene, om die volk te herinner dat God voortdurend vir hulle sorg en om hulle ’n geleentheid te bied om aan God hul dankbaarheid te betoon. Tydens ander feeste is groot gebeurtenisse in die geskiedenis van Israel gedenk. Joodse feeste wat gevier is was o.a. Sabbat, Paasfees (Pasga), Fees van die ongesuurde brood, Loofhuttefees, Joom Kippoer. Om net ‘n paar te noem. Ons het vandag in Exodus 12 van een van die groot feeste gelees.
Paasfees vier die verlossing van Israel uit die Egiptiese onderdrukking. Die Israeliete moes al die Egiptenare se slawe werk doen. Ons ken die verhaal van hoe die Farao nie die Israeliete wou laat trek nie en hoe die Here toe die tien plae gestuur het om die Farao te oortuig om God se volk vry te laat. Dit was waarlik ’n oomblik van bestiering toe God op ’n dramatiese en duidelike wyse tussenbeide getree het om sy volk uit Egipte te red.
Die Paasfees is ingestel sodat die volk gereeld kan onthou van die wonderlike gebeurtenis toe hulle as volk uit Egipte gered is. Dit was die aanbreek van ’n nuwe tyd in die volk se bestaan. Hulle as volk gaan verlos word van die slawerny en die geweldige onderdrukking deur die Egiptenare. Ook word ‘n nuwe bewustheid van ‘n sosiale en nasionale identiteit hierdeur gevestig. Deur die swaarkry ontwikkel daar ‘n dieper belewing van sosiale verbondenheid wat nou deur Paasvieringe versterk word.
Paasfees vier die verlossing van Israel uit Egipte. Dit laat ons ook dink aan ons eie verlossing van ons sonde. Ons kan waarlik feesvier want ons is volkome verlos deur Jesus Christus.
GEBED
Here, dankie dat U my ook verlos het uit die sonde. Dankie dat U my verlos het uit my Egipte wat my vasgehou het. Ek wil vry leef tot die eer van U Naam. Amen