Dagstuk | Maandag 22 Desember 2026

Dagstuk | Saterdag 20 Desember 2025
Dagstuk | Dinsdag 23 Desember 2026

https://youtu.be/NjEFYIPdBSM

Ons is in die vierde week van Advent, die week van Liefde. In hierdie week vier ons ook Kersfees – die grootste teken en gebaar van God se liefde vir ons. Hierdie week staan ons stil by een van die bekendste gedeeltes oor die liefde in 1 Korintiërs 13. Mag die gedagtes jou in hierdie week van liefde lei na groter liefde vir God en ander.

1 Korintiërs 13:1

1Al praat ek die tale

van mense en engele,

maar ek het nie liefde nie,

dan het ek ‘n weergalmende ghong

of ‘n kletterende simbaal geword.

 

Paulus se boodskap oor liefde begin direk na ’n bespreking van ongesonde praktyke binne die kerk. Volgens Paulus het die gemeente in Korinte fokus verloor van wat werklik belangrik is. Hulle was besig, maar besig met praktyke wat eintlik nie enige waarde inhou nie en inteendeel, volgens Paulus eintlik destruktief is.

Paulus se boodskap oor die liefde is ’n herinnering van wat werklik belangrik is, in die kerk en in ons lewens. Veral in hierdie Kerstyd, word ons versoek om besig te wees met ’n klomp dinge wat eintlik nie belangrik is nie.

Aan die begin van hierdie week, vra vir jouself: Tot watter mate help of hinder die dinge waarmee jy in hierdie tyd besig is, jou om in liefde te leef?

Paulus se eerste stelling oor liefde gaan oor taal. Taal sonder liefde is soos ’n kletterende simbaal. Dit is waar vir engele tale, wat mense nie kan verstaan sonder dat daar iemand is om dit uit te lê nie, maar dalk veral vir die tale van mense, wat mense wel kan verstaan en daarom die mag het om iemand op te bou of af te breek.

Woorde sonder liefde kan verwoestend wees. Dit word baie vinnig duidelik wanneer jy op sosiale media mense se kommentaar op ander se plasings lees, of kyk hoe mense met verskillende opinies oor mekaar en met mekaar praat. Sommige mense gebruik selfs die woord ‘liefde’ gereeld, maar dit is duidelik dat hulle harte en lewens nie van liefde getuig nie. Woorde wat met liefde gevul is, is skaars vandag.

Let hierdie week op hoe jy met en oor ander praat. Hoe kan jy verseker dat jou woorde getuig van liefde?

Gebed

Here, God van liefde, herinner ons vandag aan wat werklik belangrik is. Gee dat ons lewens en die woorde van ons mond getuig van U liefde.

Amen.