Dagstuk | Maandag 22 Julie 2024

Dagstuk | Saterdag 20 Julie 2024
Dagstuk | Dinsdag 23 Julie 2024

Vandag is Maandag 22 Julie en welkom by hierdie week se oordenkings. Komende Vrydag begin die Olimpiese Spele waar ons uitsien om die beste van bestes op die wêreldverhoog te sien. Dit wat ons die volgende maand gaan beleef op ons skerms kom nie sonder harde werk nie. Dit verg spanwerk, volharding en uithouvermoë. Daar is hoogte en laagtepunte, beserings en druk van toeskouers en opponente. Gelukkig vir ons het ons ’n afrigter, fisioterapeut en spanbestuurder in ons Hemelse Vader en Hy is altyd aan ons kant. Hierdie week kyk ons deur die Woord na ons eie wedstryd van die lewe.

Vandag se Bybelvers: “Weet julle nie dat atlete wat aan ‘n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen. Almal wat aan ‘n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om ‘n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons ‘n onverganklike. Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos ‘n bokser wat nie in die lug slaan nie. Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie…” – 1 Korintiërs 9:24-27

Hierdie verse fokus op die idee van selfbeheersing en volharding in die geestelike stryd, soortgelyk aan hoe atlete selfbeheersing en oefening toepas om te wen. Paulus beskryf sy eie stryd om sy liggaam te beheer en sy geloof standvastig te hou, sodat hy nie in sy bediening gediskwalifiseer sou word nie. Wat is dit waarin jy vandag moet volhard of waarin jy vandag selfbeheersing moet toepas? Gee dit vanoggend in gebed vir die Here.

Gebed: Here God, ons dank U vir die talente en die geleenthede wat U vir ons gee. Ons bid vir die atlete wat deelneem aan die Olimpiese Spele, dat hulle uiting sal gee aan hulle gawes met eerlikheid en nederigheid. Mag hulle, deur u genade, uiteindelik die ewige prys van die hemelse roeping in Christus Jesus verkry. Dit bid ons nie net vir hulle nie, maar ook vir onsself wat deelneem aan die wedstryd van die lewe. Amen.