Dagstuk | Maandag 25 Maart 2024

Dagstuk | Dinsdag 26 Maart 2024
Dagstuk | Saterdag 23 Maart 2024

Inleidend

Ons is in die tyd van die Groot Lydingsweek. Die paar dae voor Paasnaweek staan bekend as die Groot Lydensweek. Vrydag is dit Goeie Vrydag. Jesus het die Via Dolorosa (die weg van smart en pyn) gestap. Ek nooi jou uit om in hierdie paar dae saam met my hierdie weg te wandel. Dit is die week voor Jesus gekruisig sou word. Wat het alles in daardie week gebeur? Ons begin van dié Sondag af saam met Jesus stap. Ek wil jou nooi om elke dag die week ʼn kers aan te steek voor jy die gedeelte lees. Ek stap hierdie paar dae saam jou na aanleiding van die boekie wat Marray Janson geskryf het: Sewe dae sonder son: Herontdek die diepe betekenis van Jesus se lyding vir ons stukkende wêreld.  Ons dink ook in die tyd hoe kan Jesus se lyding ons nader aan mekaar bring. Daarom sal daar elke dag ʼn vraag wees wat ons juis herinner aan ons gemeentebelydenis om nader aan mekaar te leef.

STEEK ʼn KERS AAN

DIE SONDAG voor Goeie Vrydag

Die Sondag was die eerste dag van die pasgaweek. Die stad Jerusalem was vol mense, almal wat gekom het vir die Paasfees. Jesus is op pad vanaf Betanië na Jerusalem. Op pad net voor Betfage stuur Hy sy dissipels om ’n donkie te gaan haal waarop niemand al ooit gery het. Die skare maak van hulle boklere vir Hom ’n saal en help Jesus om op die donkie se rug te gaan sit. Ander gooi hulle klere en palmtakke op die grond sodat almal kan weet hier kom hulle Koning. Die woorde van Sagaria word vervul: “Sê vir Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe; Hy is nederig en Hy ry op ’n donkie, op die vul van ’n pakdier.” Dit lees ons in Matteus 21:5.

Die skare is opgewonde. ’n Mens kry die gevoel van oorwinning wat in die lug hang. Die skare se Koning is hier die Een wat hulle gaan verlos van die Romeinse oorheersing. Daarom skree hulle: “Hosanna, Prys die Seun van Dawid! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom. Prys Hom in die hoogste hemel”  Hier is hulle Koning die lank beloofde Messias. Matteus skroom nie om te sê dat die stad in opskudding en vervoering geraak het toe Jesus Jerusalem binne gegaan het nie.

Tog is Jesus nie bly daaroor nie. Die rede is duidelik. Omrede die skare Hom sien as ’n politieke verlosser. By hulle het dit nie gegaan oor die Koninkryk van God nie, maar om die koninkryk van die volk van Israel. Hulle wou sien dat Jesus hulle verlos van die Romeine, vir hulle het dit nie gegaan oor die verlossing van hulle sondes nie. Hulle dink Jesus kom met ’n swaard, maar Hy kom eerder met liefde. Die skare was dus opgewonde, maar Jesus het gehuil oor Jerusalem, want die stad het nie geweet wat regtig vir sy ware verlossing nodig is nie.

Jesus het geweet dat daar net een weg is om vir hulle die ware vrede te bring en dit was om die weg van die kruis te loop. Hierdie Sondag wat gelyk het soos ’n feesdag, met die skare wat opgewonde was, was eintlik vir Jesus ’n dag van smart. Hy was in die pylvak van die Via Dolorosa. Die Sondagaand is Hy weer terug na Betanië, waar Hy oornag het. Jesus het verkies om in Betanië te oornag eerder as in die oorvol Jerusalem.

Vraag om oor na te dink: Die feit dat Jesus ons Koning is: hoe bring dit ons nader aan mekaar?

GEBED

Here, U is my Koning en Verlosser.

Amen