Wanneer ons in hierdie week Hemelvaart vier nader ons die einde van die Paasfeestyd waarin gelowiges nadink oor die betekenis en omvang van God se heerskappy. Ons week se dagstukkies gaan daarop fokus.
Psalm 46:11. Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.
Dit is die moeite en tyd werd om dié hele Psalm 46 te lees. Die Psalm wil ons tot in die verre geskiedenis terugvat om sekere patrone raak te sien wat keer op keer herhaal. Die grootste en magtigste konings en koninkryke wat nie die toets van tyd deurstaan het nie. Hulle mag en besit was altyd net vir ‘n beperkte tyd. Daarbinne was mense uitgelewer aan die konstante herhaling van voorspoed en teenspoed wat hulle gedurig weer by oorlog uitgebring het. Die een se dood was die ander se brood. Dit is binne hierdie wisselende realiteit dat ons Psalm 46 hoor en bewus raak daarvan dat God se heerskappy in mense se voor- en teëspoed die toets van tyd deurstaan het.
God is in alles wat in hierdie wêreld gebeur teenwoordig. Hoe eggo hierdie getuienis oor meer as 2000 jaar se gebeure in jou eie hede? Wat sou dit beteken dat jy nie vandag deur die voor- en teëspoed van hedendaagse koninkryke meegevoer word nie, maar kan bedaar. By watter insig bring die Here se vrede jou vandag en hoe raak die manier waarop jy kies om hierdie dag in te gaan?
Gebed
Prys die Heer met blye galme, o my siel, daars ryke stof. Sal ek solank ek leef my Psalme vrolik toewy aan sy lof, en Hom wat vandag sy guns my bied. Altyd grootmaak in my lied. Amen