Dagstuk | Maandag 28 April

Dagstuk | Saterdag 26 April 2025
Dagstuk | Dinsdag 29 April 2025

Ek het onlangs die geleentheid gehad om op reis te gaan en die Kumano Kodo pelgrimstog in Japan te stap. Die pelgrimstog is ’n spirituele reis wat mense in Japan al vir duisende jare stap en meer onlangs mense van regoor die wêreld, van verskillende kulture, tale en gelowe. Op hierdie reis het ek weer op ’n besonderse manier bewus geword van God se teenwoordigheid in my lewe, waar ook al ek gaan. Ons is ook in Paastyd, waar ons opnuut die lewe as dissipels van die opgestane Here Jesus Christus ontdek. Hierdie week reis ons saam met die gedagte van saam met God op reis wees, as dissipels van Christus.

Ons begin vandag by die verhaal van die Emmausgangers in Lukas 24:15

Lukas 24:15

“Terwyl hulle so praat en bespiegel, kom Jesus self nader en loop saam met hulle,”

Die Emmausgangers was op pad huis toe, moedeloos ná Jesus se kruisdood. Hulle het nie besef dat Hy self langs hulle loop nie. Eers later, toe Jesus aan tafel die brood breek, besef hulle wie Jesus is. Hierdie verhaal van die Emmausgangers openbaar iets wat vir ons almal waar is. Ons ontmoet vir Christus op ons pad en Christus stap saam met ons – soms as ’n vreemdeling, wie ons nie erken nie en eers later in refleksie besef dat Jesus by ons was. Soms is ons ook blind vir God se teenwoordigheid in ons eie reis—veral wanneer dinge anders loop as wat ons verwag het. Terwyl ek in Japan op reis was, het ek vir Jesus beleef in die vreemde plekke en vreemdelinge op my pad. Soos by Emmaus, het Hy Hom geopenbaar in die vreemdeling se gasvryheid, in die stilte van die bergpaaie en skoonheid van die natuur en argitektuur, en in my eie vermoeidheid toe ek Hom nodig gehad het.

Reis vandag verder met hierdie gedagte:
Wanneer laas het jy besef: “Die Here was hier, en ek het dit nie besef nie”? Hoe kan ek meer oop wees om vir Christus in die vreemdeling en vreemde op my reis te ontmoet?

Gebed

Here, open my oë soos dié van die Emmausgangers, sodat ek U kan sien in elke oomblik van my reis. Amen.