In Augustus is dit die gebruik dat ons gemeente oor barmhartigheid nadink en veral oor hoe die Here ons roep om uitdagings daaroor in ons hede te hanteer. Ek wil in hierdie week se dagstukke spesifiek fokus op die manier waarop ons konflik hanteer. Dit gaan nie net oor gevalle waar ons persoonlik met ander in konflik situasies beland nie, maar ook hoe ons op die konflik wat om ons afspeel reageer.
Spreuke 15:1. ‘n Sagte antwoord laat woede bedaar; ‘n krenkende woord laat woede ontvlam.
Hoe reageer ons op onreg? Hoe maak ons dit wat verkeerd is weer reg? Die eerste gedagte wat by my opkom is om dit direk aan te spreek en die standpunt wat ons glo reg is te laat geld of dan ten minste om mense duidelik te wys op wat verkeerd is. Is dit moontlik dat terwyl ons die regte goed vir mense sê ons besig kan wees om die verkeerde ding te doen? Dit is die ontnugterende realiteit waarmee die teks in Spreuke ons konfronteer. ’n Krenkende woord het die vermoë om die dit wat jy dink jy sê, verkeerd te maak. Ons impulsiewe reaksie op onreg kan soms net so verkeerd wees soos die onreg wat ons uitwys. Dit is vir ons dikwels baie moeilik om dit raak te sien. Wat is die onreg wat jou bloeddruk laat styg en jou in stil oomblikke jou gedagtes oorheers? Ek dink dikwels dat ons eie spanning oor die aanspreek van onreg grootliks veroorsaak word deur die aanvoeling dat ons die situasie anders moes hanteer het en die ontnugtering dat ons in die proses die situasie gevaarliker gemaak het. Hoe praat die Here in hierdie tyd met jou oor hierdie spanning wat in jou leef en wat is die alternatief wat die Here se Gees ons wil uitwys?
Gebed
Hemelse Vader, U wat die harte van mense ken, leer ons om met wysheid te spreek.
Here, in ’n wêreld gevul met harde woorde en vinnige oordeel, vra ek U:
Plaas U sagte antwoord op my lippe, sodat ek nie met woede sal reageer nie, maar met geduld, vrede en liefde. Help my om nie met krenkende woorde terug te slaan nie, selfs wanneer ek verkeerd verstaan, of seergemaak word. Laat my woorde genesing bring waar daar seer is, en rus waar daar onmin is. Vul my hart met u kalmte, en my gedagtes met u waarheid. Maak my ’n instrument van versoening,
sodat u lig kan skyn deur elke gesprek. In die Naam van Jesus bid ek dit.
Amen.