In die laaste week van Oktobermaand vier ons altyd die Reformasie. Hierdie hervormings beweging, waaruit ons eie kerkktradisie gebore is, het in die begin van die 16de eeu ‘n einde aan die Donker Eeue in Europa gebring. Na binne het dit gelowiges se lewens verdiep en na buite ‘n reuse impak gehad op soveel aspekte van die lewe waaronder kuns, musiek, letterkunde, regsgeleerdheid en die ekonomie. Een van die belangrike beginsels van die beweging is uitgedruk in die Latynse begrip Semper Reformanda (om voortdurend te vernuwe). Dit is die insig dat hervorming, herlewing, verdieping en verandering iets is waarby die Here ons voortudrend uitbring. Voortdurende vernuwing is een van ons gemeente se vier waardes waaroor ons dan ook nadink in hierdie laaste kwartaal van die jaar en waarop ons dagstukkies in hierdie week gaan fokus.
Romeine 3:23
Almal het gesondig en is ver van God af, maar hulle word, sonder dat hullle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing van Jesus Christus.
Tydens die Donker Eeue was die kerk vasgevang in baie streng godsdienstigheid waarin God se oordeel gelowiges in vrees van die ewige verdoemenis laat leef het en genade skaars beskikbaar was. Romeine 3:23 was onder andere een van die teksgedeeltes wat hierdie perspektief verander het. Tog was daar altyd gelowiges wat daarop gewys het dat die kerk se fokus op God se genade mense die opsie laat om losbandig te lewe (of verskonings bied vir sonde). Lees wat Paulus in Romeine 6:1 oor hierdie redenasie te sê het. Oor die realiteit van sonde en God se verlossing daarin het die hervormer Martin Luther die volgende perspektief gehad: If you are a preacher of mercy, do not preach an imaginary but the true mercy. If the mercy is true, you must therefore bear the true, not an imaginary sin. God does not save those who are only imaginary sinners. Be a sinner, and let your sins be strong (or “Sin boldly”), but let your trust in Christ be stronger, and rejoice in Christ who is the victor over sin, death, and the world.
Dit is presies wat Paulus ook in ons teksgedeelte vandag by ons wil tuisbring. Ons menslike natuur bring ons elke liewe dag by plekke uit waar ons en ander foute maak. Almal het gesondig en verdien om deur God veroordeel te word. Tog, bely ons dat God se genade alltyd sterker is en dit is in hierdie opsig dat ons hom ons Verlosser noem. Moet dus nie dat die realiteit van mense se gebroke natuur en wêreld beheer neem oor God se genade wat elke dag lei om die lewe om te draai nie. Ons kan immers nie voortdurend vernuwe as God se genade nie voortdurend elke dag vir ons nuut is nie.
Gebed
Vader in die hemel. Moet tog nie ons sonde voor ons staanmaak nie. Hou ons eerder staande teen die sonde. Gee dat ons elke keer wanneer ons aan U dink, nie vrees vir skuld sal ervaar oor wat ons aangevang het nie; maar eerder vrede en vreugde oor alles wat U vir ons gedoen het. Help ons om te vergeet hoe ver ons afgedwaal het, en eerder te onthou dat U ons daar kom haal het. Amen.