Dagstuk | Maandag 29 Desember 2025

Dagstuk | Saterdag 27 Desember 2025
Dagstuk | Dinsdag 30 Desember 2025

1 Tessalonisense 5:18“Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”

Wanneer goeie dinge met ons gebeur, is dit vir ons soveel makliker om dankbaar te wees. Maar soos Henri Nouwen, die Katolieke geestelike skrywer, ons herinner: dankbaarheid is ’n lewenshouding — ’n dissipline waarin ons daagliks erken dat alles wat ek is en alles wat ek het, aan my geskenk is as ’n gawe van liefde wat gevier moet word.

Om só na die lewe te kyk, en alles met dankbaarheid te ontvang, is egter nie altyd eenvoudig nie. Wanneer die harde kant van die lewe aan ons skuur, voel dit nie soos ’n gawe nie en laat dit ons soms twyfel aan God se liefde.

Die kuns van die lewe lê dalk juis daarin om te doen waartoe Paulus ons uitnooi: om in alle omstandighede dankbaar te bly vir alles wat God aan ons skenk. En dit omdat ons bly glo in die groot, onsienlike misterie: dat daar ’n God is wat oor ons waak, ’n God wat na ons omsien.

Soos die Duitse teoloog Helmuth Thielicke dit eens gestel het, koester God hoër gedagtes oor ons lewens — gedagtes wat ons vanuit ons aardse perspektief nie altyd kan verstaan nie. Maar op ’n dag ontdek ons dat selfs die slegte en die swaar in ons lewens ten goede gekeer is.

Daarom kan ons begin ervaar wat broer Roger van Taizé so treffend verwoord het:
“That in the same wound where the pain of anxiety festers, the energy for loving is also born.”
Dat ons juis in ons wonde iets van God se genade en transformerende liefde ontdek. En dat ons uiteindelik selfs vir daardie wonde dankbaar kan raak — miskien selfs meer as vir al die goeie dinge wat ons besit.

Mag ons hierdie dissipline aanhou inoefen: om in alle omstandighede, en vir alle dinge, dankbaar te bly teenoor ons God.