Dagstuk | Maandag 29 Januarie 2024

Dagstuk | Donderdag 30 Januarie 2024
Dagstuk | Saterdag 27 Januarie 2024

Ons is in die vierde week na Epifanie, waar ons fokus op Jesus se verskyning op aarde en hoe Jesus se menswees God se wese openbaar. Hierdie week nooi ons jou uit om saam te reis in Lukas 4:18-19, waar Jesus uit Jesaja lees. Jesus maak hier aan die begin van sy aardse bediening dit duidelik hoekom Hy hier is en waarvoor God hom gesalf en gestuur het. Jesus maak aan die begin van sy bediening dit vir ons duidelik wat in God se hart leef en nooi ons uit om Hom hierin te volg.

Ons nooi jou uit om hierdie week met ‘n verwagtende hart te betree, gereed om deur die Woord van God gelei te word en ‘n nuwe begrip van jou roeping in Christus te ontdek. Mag hierdie meditasies ‘n bron van inspirasie wees terwyl ons die pad van geestelike groei en navolging van ons Here bewandel.

Lukas 4:18-19

18 “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig. Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word, en vir blindes dat hulle weer sal sien, om onderdruktes te bevry,19en om die genadejaar van die Here aan te kondig.”

 

Refleksie

Vandag staan ons stil by die eerste gedagte in die teks: “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het…”

Jesus maak dit van die begin af duidelik dat Hy nie net maar net hier is nie. Hy is gestuur deur God. Die woord gesalf beteken: om geheilig, of aan God toegewy te word vir ’n spesifieke doel.

Hierdie bevestiging van God se Gees op Jesus herinner ons aan die heilige roeping wat elkeen van ons het. Wat vir Jesus waar is, is waar vir ons wat Hom volg, soos Paulus in 2 Korintiërs 21-22 duidelik maak:

Dit is God wat ons saam met julle in Christus ‘n vaste fondament gegee het, en ons gesalf het, 22wat ons ook verseël en die Gees as waarborg in ons harte gegee het.

Jy is nie net per ongeluk hier nie. Jy is gestuur en gesalf deur God. Sy Gees rus op jou.

Ons word vandag uitgenooi om hieroor te reflekteer.

Hoe maak die besef dat God se Gees op jou rus, dat jy deur God gestuur is en dat deur Hom gesalf is, jou lewe anders?

Waarvoor word jy geroep of gestuur? Hoe wil jy hierdie roeping uitleef?

Rus vandag in die wete dat jy gesalf en gestuur is en dat die Gees van God op jou is.

 

Gebed

Hemelse Vader, dankie dat U Gees op ons rus en ons gesalf het vir ‘n spesifieke doel. Help ons om bewus te wees van U leiding in elke area van ons lewens, en gee ons die krag om U wil te volg. Amen.