As predikante ontvang ons elke drie jaar ‘n maand sabbatsverlof. Ek kon voorheen weens verskeie redes nog nooit hierdie geskenk gebruik nie en het dit dus vanjaar vir die eerste keer in my 18 jaar in die bediening, benut. Ek wou graag iets besonders doen en besluit toe om ’n gedeelte van die Camino pelgrimstog in Spanje te gaan stap. Ek het besluit op die Frances roete wat in Frankryk begin en dan in Spanje by Santiago eindig. Ek het die laaste 115 km gestap wat die vereiste is om die sertifikaat te ontvang dat jy die Camino gestap het. Ons het in totaal ses dae gestap. Ek nooi jou om in die volgende paar dae hierdie reis saam met my te beleef.
Dag 1 het ons gestap vanaf Sarria tot Portomarin. Dit is so 22 km. Soos jy stap hoor jy die pragtige voëlgesang, die kabbelende waterstrome en die geklik van jou stok. Dit is absoluut voedsel vir die siel en gees om so in die natuur te stap. Ek besef die waarde daarvan om tyd in stilte deur te bring en weer geluide te hoor wat andersins by ons sou verbygaan. So stap ek vir 22 km totdat ek uiteindelik by Protomarin kom. Wat sal daar wag op my reeds moë bene. Nog ‘n stel van 50 trappe om te klim voordat jy die dorpie kan ingaan. Dit het my daaraan laat dink dat die lewe vir ons die mooi, maar ook die soms swaar aanbied. Ons kan dit nie kies nie – ons moet alles wat oor ons pad kom deurleef. Die mooi van voëlsang in die lewe en ook soms die uitdagings van trappe. Maar deur die genade stap die Here saam met ons deur die moeilike en lekker dele van die lewe.
TEKSVERS: Jesaja 43:22As jy deur water moet gaan, is Ek by jou,
deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie;
as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie,
die vlamme sal jou nie brand nie,
GEBED: Here stap asb saam met my deur die lewe. Deur die gemaklike tye maar ook deur die soms moeilike tyd Amen
Gebed