Dagstuk | Maandag 3 November 2025

Dagstuk | Saterdag 1 November 2025
Dagstuk | Dinsdag 4 November 2025

Die wit tente wat hier by die kerk opgeslaan word, is sinoniem met Feesmarktyd. Dit is presies waar ons nou onsself nou bevind. As jy op die kerkterrein beweeg is daar ‘n feestelike atmosfeer en die heerlike kosgeure en interessante stalletjies skep beslis ‘n opgewondenheid by mense. Dit het my daaraan laat dink dat ons as mense hou van ‘n fees. Ons geniet ‘n feestelike atmosfeer. Dit bring mense bymekaar en in ons harte bring dit ‘n gevoel van geluk en tevredenheid. Interessant dat ons ook in die Bybel lees van feeste.

Vroeg in die Bybel lees ons reeds van die feeste wat deur die volk van die Here gevier word. Die HERE het self hierdie feeste ingestel. Met elke fees was daar ’n dieper betekenis vir Israel – van die feeste het saam met die seisoene geval, en Israel het dan hul dankbaarheid betoon. Ander feeste het weer gebeure in Israel se geskiedenis herdenk, en weer het dit hulle dankbaarheid teenoor God beklemtoon.

Teksvers: Levitikus 23:1-2 Die HERE het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: Die feeste wat julle tot my eer moet vier, moet gewyde byeenkomste wees.

BOODSKAP

Die feeste het daarop gedui dat die HERE met Israel ’n verbondsverhouding gesluit het. Israel moes vir die HERE afgesonder gewees het as sy verbondsvolk. In hierdie feeste sien ons dan ’n groot deel van die HERE se genade en verlossing, maar ook van Israel se skuldbelydenis en dankbaarheid. Dit herinner ook daaraan dat die volk op die HERE vertrou het. Daarom wys die feeste nie net terug na die HERE se genade nie, maar ook vorentoe –na ’n heerliker werklikheid in die toekoms wat in Jesus Christus vervul is.

In Levitikus 23 word die feestye van God beskryf. Al sewe feeste is ’n heenwyse na Jesus. Die feeste val saam met die landbou seisoen van Israel. Die feestye van God het ingepas met die oestye. Daar was drie jaarlikse oeste, eerstens die garsoes, gevolg deur die koringoes en laastens die vrugteoes.

Elk van die sewe feeste is ’n Profetiese afbeelding van God se totale reddingsplan.

1) Paasfees

2) Fees van Ongesuurde Brode

3) Fees van Eerstelinge

4) Pinksterfees

5) Fees van Basuine

6) Groot Versoendag

7) Loofhuttefees

Die feeste van God wat in Levitikus 23 bespreek word, is deur God aan Sy volk gegee sodat Sy volk die koms van die Messias kon verstaan, asook die rol wat die Messias sou speel om die mensdom en die aarde vir Hom los te koop na die sondeval van die mens. Die feeste is dus n skadu van toekomstige dinge. Jesus was die finale vervulling van die groter plan wat God vir ons ‘n duidelike verkondiging van God se groot genade en ontferming met ons as mens. Ons gaan die volgende paar dae stil staan by drie groot feeste wat vir ons meer bekend is. Mag dit vir jou ook ‘n tyd van geestelike feesviering en verdieping in jou geloof wees.

GEBED

O Here, God van Israel,
God van Abraham, Isak en Jakob,

Ons kom met eerbied voor U, en ons onthou U vasgestelde tye –
Die heilige feeste wat U aan U volk gegee het as tekens en seisoene van U getrouheid.

By die Pasga onthou ons U magtige hand wat bevryding uit slawerny gebring het.
U is die God wat gevangenes vrymaak. Verlos ons vandag van alles wat ons vasbind – sonde, vrees en wanhoop.

By die Fees van Ongesuurde Brode soek ons om ons harte te reinig van alle verdorwenheid.
Help ons om in opregtheid en waarheid te wandel,
Om die ou suurdeeg weg te doen en lewens te leef wat U behaag.

By die Fees van die Eerstelinge bring ons vir U die beste van wat ons het en is.
U is ons Voorsiener en Onderhouer.
Laat ons lewens ‘n heilige offer wees, die eerste en die beste,
’n Getuienis van dankbaarheid en vertroue in U beloftes.

By Pinkster  dank ons U vir die gawe van U Woord en U Gees.
Vervul ons met wysheid en moed om in U waarheid te wandel,
Om lewe en geregtigheid te spreek,
En om barmhartigheid lief te hê in die krag van U Gees.

Here, soos hierdie feeste herinner aan wat was,
Laat dit ons ook wys op wat nou is en wat kom.
In elke seisoen wil ons U onthou,
Amen.